Wendy Horne, Jerome Gordon, Jeremy Jones, Terence Adams en Phillip Alexander by die bekendstelling van die skole-tuinprojekFoto: David Rossouw


Tuinmaak by skole is nou deel van opvoeding en het Donderdag 8 September ná vier maande se swoeg en sweet plaaslik begin.

Vier voedseltuintonnels is deur die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) aan die vier plaaslike deelnemende laerskole in die primêre skole Atlantis, Grosvenor, Kerria, Reygersdal en Witsand oorhandig.

Die projek, wat bekend staan as “Shaping the future of school gardens”, is ’n hoogtepunt van die WKOD se direktoraat fisieke hulpbronbeplanning en eiendomsbestuur, wat begin het met ’n vennootskap met Lukhanyo Urban Farming Network, wat met die skole begin saamwerk het.

Volgens die WKOD is die doelwit van die projek om na agt geen-fooi-skole en na een fooi-heffing-skool in hoofsaaklik minder bevoorregte gebiede uit te rol.

Die idee is om tuinmaakvaardighede aan 8 200 leerders oor te dra, met die doel om verbeterde leer aan kinders te verskaf en leeromgewings, wat dit moontlik maak, uit te brei om funksionaliteit en aanspreeklikheid te versterk om leerders voor te berei.

Jerome Gordon, hoof- onderwysspesialis by die WKOD, glo skole vervul toenemend ’n rol in gemeenskappe om leerders meer selfversorgend te maak ten opsigte van voedselvoorsiening. Hy het die vier skole geprys omdat hulle die voortou in die stryd teen armoede en honger geneem het. In hierdie projek sal plaaslike skole nou met ’n goed versorgde groentetuin pronk, wat nie net leerders se landboukennis bevorder nie, maar ook kos vir voedingsinisiatiewe by skole en in die gemeenskap produseer.

Wendy Horne en Leon Rutgers van die Metro Noord-onderwysdepartement het die projekspan geloof vir die inisiatief van die projek.

Die betrokke skoolhoofde is opgewonde oor hierdie geleentheid, aangesien dit nie net groente vir die skool sal produseer nie, maar ook vir die gemeenskap. Dit bied ook werksgeleenthede aan agt tuiniers wat eienaarskap sal neem en ’n inkomste vir hulself en die skool sal kan genereer, het Terence Adams, die hoof, gesê.

Witsand Primêr begin funksioneer as ’n gemeenskapsentrum wat landboupraktyke in die gemeenskap bevorder, waar tuinmaak by Witsand-huise ook aangemoedig word, het Gerhard Matthyse, Witsand se hoof, gesê. Die skoolhoofde Melchior Petersen van Reygersdal en Phillip Alexander van Kerria is ook verheug oor die projek.

Benewens die werksgeleenthede, meen hulle, sal die projek ook inwoners aanmoedig om gewasse te plant.

Tydens die middagete by Witsand Primêr het Russell Andrews, kring 10-bestuurder, die WKOD en alle rolspelers bedank. “Julle word nou die bewaarders van die projek, wat beteken julle moet eienaarskap hiervan neem.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article