Verteenwoordigers uit die gemeenskap het die 28ste verjaarsdag van die stasie by hul nuwe tuiste gevier. Foto: Murphy Roberts


Radio Atlantis het sy 28ste verjaarsdag op Lentedag gevier.

Volgens dié gemeenskapsradiostasie se voorsitter, Charlton Keesh, maak dit die stasie een van die oudste gemeenskapradiostasies in die land.

Keesch het op 1 September aan ’n afvaardiging gaste gesê Radio Atlantis het ’n ryk geskiedenis en dit is danksy die harde werk van baie mense dat die stasie vandag steeds uitsaai.

Volgens die nuwe subraad 1-voorsitter, Allister Lightburn, wat ook destyds deel van die radiostasie se vrywillige span was, sou dit baie onregverdig wees om mense uit te sonder. “Hulle weet wie hulle is, wat nagte deur gewerk het om Radio Atlantis ’n werklikheid te maak,” sê hy.

Lightburn het later ook ’n omroeper geword en het steeds ’n passie vir die radio. Hy was in ’n stadium selfs ’n voormalige voorsitter en instaan-bestuurder van Radio Atlantis.

Keesh het gaste by die stasie se nuwe tuiste toegespreek en verduidelik die stasie het steeds baie uitdagings. “Ons moes eenvoudig ook weer die stasie nader aan die inwoners bring, omdat omstandighede ons destyds na die nywerheidsgebied gedwing het.”

Hy het plaaslike organisasies gevra om meer aktief betrokke te raak en sê mense moet nie net wil help as daar negatiewe stories is nie. “Radio Atlantis behoort aan die gemeenskap en nie net aan sekeres nie,” het Keesch gesê.

Volgens Karin Herman, oftewel “Suster K”, soos sy as die ontbytprogram-aanbieder bekendstaan, was dit altyd haar droom om ’n nuusleser te word. Sy het gesê sy is dankbaar vir die geleentheid wat sy het om inwoners vroegoggend te vermaak.

Keesch sê Radio Atlantis moet nou op die volgende 28 jaar fokus.

Die stasie word nou in die Atlantis City Centre gehuisves en het Maandag uit die nuwe ateljee begin uitsaai.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article