Die opwindende Sanlam-WOW-spelfeeskompetisie is die hartklop van die organisasie en bring gemeenskappe deur woorde bymekaar.
Suid-Afrika se beste spellers van al die nege provinsies is Saterdag 7 Oktober by die Universiteit Stellenbosch byeengebring om aan die 2023-Sanlam-WOW-spelfeeskompetisie deel te neem.
WOW, wat sy 20ste bestaansjaar vier, het die lewe van duisende kinders en so ook hul onderwysers verander deur verskeie projekte om moedertaal en geletterdheid te bevorder.
Leerders van graad 1 tot graad 10 word in die beginstadium in die kompetisie met duisende leerders van die verskillende onderwyskringe uit die nege provinsies uitgedun. Hulle is diverse leerders met Afrikaans, Engels en isiXhosa as huistaal.
Dit is ook vir elke deelnemer ’n hoogtepunt om aan die WOW-woordspelfees deel te neem, waar meer as 600 skole oor die land heen meeding vir die nasionale kroon en die gesogte titel as die WOW-kampioen.
Die wedywering tussen die leerders was in die 2023-byeenkoms baie mededingend tot die laaste vier posisies, maar die deelnemers het mekaar ná die spelfees gelukgewens.
Skole uit Atlantis, met 11 provinsiale kampioene – een leerder by Atlantis Sekondêr, drie by die Hoërskool Robinvale, twee by Saxonsea Primêr en vyf leerders by Seaxonsea Sekondêr, het ook by die byeenkoms uitgeblink toe hulle een goud en twee bronsmedaljes losgespel het.
In die Engelse afdeling het Jade Zaal, ’n graad 7-leerder by Saxonsea Primêr, ná strawwe teenstand deur Ofentse Kekana van Mokopane Primêr in Limpopo, en Shamia Draaia van die St. Patrick’s Primêr in die Oos-Kaap, die nasionale titel gewen.
Verlede jaar – toe Jade in graad 6 was – het sy in die provinsiale kompetisie uitgeval, maar hierdie jaar het die onderwyser Halleshene Markus seker gemaak dat sy en Jenicka Pyl tot die einde aanbly om die skool en provinsie trots te maak.
Jenicka het verlede jaar in die distrikskompetisie uitgeval, maar nou het sy brons in die Afrikaans-afdeling ontvang.
In die graad 10-afdeling het Tirah Africa van Robinvale Hoërskool in die derde plek geëindig en Zeetah Snel van Atlantis Sekondêr vierde tot die einde gespel, maar is net-net geklop deur Le’ Keisha Cloete van Noord Karkams, Noord-Kaap, en Gabielle van den Heever van Aggeneys Hoër, wat op haar beurt tweede geëindig het.
Onderwysers Sonia Boyten van Atlantis Sekondêr en Shady Joubert van Saxonsea Sekondêr en die hele Atlantis-gemeenskap kan baie tevrede wees op die leerders se prestasies.
Die Noord-Kaap se leerders het weer eens hul meesterskap by die WOW-spelfeeskompetisie nasionaal onderstreep toe leerders uit dié provinsie 13 medaljes teenoor die Wes-Kaap se 11 losgespel het.


