Die belangrikste doelwit van die organisasie “ROOT304” is om vroue in verskillende sektore met verskillende programme te ondersteun.
Só sê Christelle Solomons, stigterslid van ROOT304.
Die organisasie het sy amptelike bekendstelling Maandag 30 Oktober by die Blue Peter-hotel in Blaauwberg gehou. Volgens Solomons gaan haar organisasie se doelwitte wees om vroue in kleinondernemings, vroue in opvoeding, vroue in veiligheid, vroue in sport en vroue in geloof, te ondersteun.
Danksy verskillende gassprekers wat die vroue toegespreek het, was die boodskap baie duidelik – vroue moet hul regmatige plek in die samelewing inneem.
Volgens Solomons het haar organisasie reeds verskillende programme aangepak. ROOT304 het saam met Mamre Primêr ’n toerismeprogram op fietse gedoen, waar meisies ingelig is oor die geskiedkundige plekkies en geboue in Mamre – ’n dorpie wat al ouer as 200 jaar is. “Ons het ook Marienemaand – in samewerking met die Stad Kaapstad, NCRI en die Atlantis- spesiale ekonomiese sone – ondersteun, waar ons strande skoongemaak het,” vertel sy trots.
“Vroue in Sport het ook ’n rugbykliniek in samewerking met die Sports Phoenix-groep bygewoon.
“Vroue in besigheid het ’n uitstalling by die ikoniese duine in Atlantis gehou, waar hulle produkte vir die gemeenskap uitgestal is.”
Solomons het aan die gehoor gesê haar organisasie wil graag in verbinding tree met vroue wat haar sentiment deel – veral in die sakesektor – om waardevolle inligting te kry en ook die organisasie se kennis verbreed.
“Persoonlike ontwikkeling is hoog op ons sakelys en daarom streef ons om met vroulike leiers wat kennis op die gebied het, te skakel.”
Van die gaste was Abigail Murray, ’n kleinsake-spesialis van die Freeport Saldanha, en Angelique Simon van Seda. Die gasspreker was Michelle Ellis van die Wes-Kaapse regering, wat vroue verduidelik het hoe om sake met die regering met minder rondslomp te doen.


