Mamre en Delicious het mekaar Saterdag (11 November) die stryd op die Mamre-sportterrein aangesê.
Mamre het sy eerste Sanlam-Boland-Top-12-oorwinning geproe, nadat hy al drie sy vorige wedstryde verloor het.
Beide spanne is verlede Saterdag deur Bella Vista en Wesbank met 50-talle gelooi, maar Mamre het uit die as opgestaan en karakter getoon toe hy Delicious met 34-17 voor sy tuisskare geklop en daarmee sy eerste vyf ligapunte behaal het.
’n Wedstryd wat net nie aan die gang wou kom nie en met rukke en stote voortgeploeter het, het in die eerste 10 minute te veel oordeelsfoute aan al twee kante opgelewer.
Mamre het egter sy kans gekry toe die skeidsregter ’n vasteskrum aan Mamre toeken toe Delicious in hul 22 m-gebied, 15 m van sy doellyn af ’n oordeelsfout begaan het en deur die skeidsregter gestraf word.
Christopher Liedeman het die doellyn ná goeie losspel in Delicious se 22 m-gebied oorgesteek vir Mamre se eerste drie (telling 5-0).
Delicious het egter onmiddellik teruggeslaan toe Mamre in sy halfgebied besit aan Karl-Andrew Heins weggegee het, wat 40 m genael vir sy drie in die hoekie vir ’n voorsprong van 5-7.
Die wedstryd het in die eerste helfte net nie aan die verwagtinge voldoen het nie, maar Heins aan die voorpunt van Delicious se aanvalle, het Mamre altyd aan die raai gehou. Toe die skeidsregter ’n strafkop in Mamre se halfgebied aan Delicious toeken, het Heins ’n tikskoppie waargeneem, deur Mamre se verdediging gesny en langs die pale afgerond, wat aan Delicious ’n voorsprong van 12-5 gegee het.
Edwill Okkers het koelkop gebly toe hy na ’n vaste skrum in Delicious se kwartgebied ’n hoë bal die lug in gestuur het, wat vir Dylan Adams net reg gespring het om dit voor ’n Delicious-speler toe te val. Okkers was in die kol met die doelskop om die telling 12-12 te maak.
Goeie spel deur Mamre se voor- en agterspelers het Kirsten Adams in staat gestel om met die bal in die hand deur Delicious se verdediging te skeur om onder die pale af te rond. Okkers het weer verdoel om die telling 19-12 in Mamre se guns te maak en ook weer die neus voor te kry.
Eudene van der Merwe, wat ’n goeie wedstryd op vleuel beleef het, is net voor rustyd met ’n geelkaart deur die skeidsregter vir ontoelaatbare spel van die veld gejaag, wat dinge vir Mamre bemoeilik het, maar die spanne het gaan water drink met die telling 19-12.
Delicious het net ná rustyd met goeie agterlynspel, toe Michael Evans in die linkerkantse hoek gaan druk het, die telling tot 19-17 laat krimp.
Die kaptein Kirsten Adams se kombinasie op senter met Dylan Adams het later gewys dat hulle twee mekaar gevind het toe Adams in die regterkantse hoek ná ’n goeie breekslag oorgeduik het.
Hulle sal net moet leer om die lyn reguit te trek om die honger Bradwin Prins en van der Merwe meer ruimte teen die kantlyn af te gee.
Prins, wat die hele seisoen die Weskus aan die brand gespeel het, is baie mooi deur sy teenstander opgepas en geen ruimte vir sy ontploffende vaart gelaat nie.
Met uitstekende ondersteuning deur die voorspelers in die tweede helfte het Mamre tot sy reg gekom toe die sterk pak Delicious se voorspelers laat les opsê het en die agterspelers die bal lustig rondgeslinger het om nog drie drieë te druk, waaronder ’n driekuns deur Kirsten Adams en Van der Merwe. Mamre het met dié oorwinning sy eerste vyf ligapunte in die Sanlam-Boland-Top-12 verdien, maar is steeds in die vyfde plek.
Mamre speel Saterdag (18 November) tuis teen die Groep B-voorloper, Safcol United, sy laaste wedstryd en sal graag op ’n hoë noot wil afsluit.
Ander Uitslae:
Robertson 45-35 Hawston; Saldanha Bay 28-25 Roses United; Safcol United 23-17 Bella Vista; Vanrhynsdorp Eagles 12-47 Darling; Young Hamiltons 24-27 Wesbank.


