Herken julle dalk dié man? Die man kan die polisie help met hul ondersoek na die noodlottige voorval waarin Chevante dood is.Foto: Verskaf


Die bestuurder wat verantwoordelik is vir die dood van klein Chevante Alcaster is nog nie aangekeer nie, het kapt. Lisa Munro, ’n polisie­woordvoerder, bevestig.

Volgens Munro werk die ondersoekbeampte onverpoos en volg elke moontlike leidraad op om die verdagte vas te trek.

Die vyfjarige Chevante is verlede jaar op 22 Oktober tragies dood toe die bestuurder van ’n bakkie vermoedelik die stopstraat geïgnoreer en haar getref het. Die voorval, wat by die vierrigting-stopstraat by Serwood-pad gebeur het, het steeds die tonge los.

Volgens Chevante de ma, Cecile, is die bestuurder wat verantwoordelik is vir haar kind se dood, “’n moordenaar – punt”. Cecile het met die nuus dat ’n foto van beeldmateriaal van die veiligheidskameras by die hospitaal geneem is, gevra die gemeenskap moet asseblief praat as hulle die bestuurder herken.

Volgens die emosionele ma kry sy tans berading by die Thutuzela-sentrum. “Ons sukkel nog om vrede te maak met klein Chevante se dood. Dit voel of dit nou eers insink,” verduidelik sy terwyl die trane rol. “Dit is een van die redes hoekom ek voel die aanklag van strafbare manslag moet verander na moord. Hy het geen gewete nie en is gevoelloos,” het sy weer beklemtoon.

Volgens Munro kan die polisie steeds nie bevestig of ’n vrou tydens die voorval ook in die bakkie was nie. Sy het die publiek gevra indien hulle die man op die foto herken of ken, om die polisie te bel.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article