Plaaslike wetstoepassers moet in haglike omstandighede werk, en hoewel hulle ’n dak oor hul kop het, moet hulle binne meer koes vir water as buite.
Volgens ’n boukontrakteur, wat al verskeie keer kwotasies vir herstelwerk verskaf het, is dit ’n skreiende skande.
Die man, wat nie geïdentifiseer wou word nie, vertel: “Die water stroom by die dak in en daar is baie meer water in die kantore as buite as dit reën,” vertel hy.
Wat egter meer pla, is die vuurwapens en ammunisie in ’n kluis, maar die vensters het nie handvatsels aan nie en kan dus nie toegemaak word nie.
Die bouer het foto’s aan Weskus Nuus gewys waar duidelik gesien kan word die vensters kan nie sluit nie.
Die toilette is ook in ’n haglike toestand met water wat baie keer tot enkeldiepte in die badkamers lê, verduidelik hy.
Die bouer vertel dat hy byna twee jaar gelede die eerste keer uitgegaan het om die skade te gaan beraam. Elke keer loop dit net dood, sê hy. Die foto’s is nie baie lank gelede nie geneem, en hy sê dit lyk elke keer net slegter en slegter. Baie keer kan beamptes nie eens hul administrasiewerk doen nie omdat water byna deur die hele dak lek, vertel hy.
Weskus Nuus het intussen ook vertroulik verneem wetstoepassers sukkel met gesondheidsprobleme weens die nattigheid in hul kantore.
“Ek kon sien lede is erg gefrustreer met hul werksomstandighede, maar hulle kan niks daaraan doen nie.”
Weskus Nuus het intussen vertroulik verneem die kantoor kan moontlik geskuif word. Die skuif van wetstoepassers kon egter nie bevestig word nie, maar dit kan dalk verduidelik hoekom herstelwerk nog nie begin is nie, het die bouer gesê.
Die subraad 1-voorsitter Allister Lightburn het die koerant na die Stad se mediakantoor verwys vir kommentaar en gesê hy weet self nie of planne bestaan dat wetstoepassers gaan skuif nie.
Die Stad Kaapstad het teen druktyd nie op navrae reageer nie.


