Die spanbestuurder Jason Johnson (links), die skoolhoof Gary Markus (agter) en die afrigter Denzil van Wyk (regs) saam met Saxonsea se o.14-sokkerspan..Foto’s: David Rossouw


Altesaam 18 primêre skole vir seuns o.14 het Saterdag (25 Mei) aan die jaarlikse Metro-Noord-skole se distrik-sokkervereniging-sokkertoernooi op die Hoërskool President-sportterrein in Goodwood deelgeneem.

Die toernooi vind jaarliks plaas om te bepaal wie die sokkerkampioen in die Metro-Noord-onderwysdistrik is. Die wenner speel dan uit teen die ander drie distriktewenners om ’n kampioen te bepaal.

Weens eksamens het net 18 laerskole vir die toernooi ingeskryf, waarvan Grosvenor, Kerria en Saxonsea primêre skole deel was.

Die spanne is in vier groepe verdeel met twee groepe van vyf en twee groepe van vier spanne. Die twee beste spanne kwalifiseer vir die kwarteindstryd, met die wenners wat tot die halfeindronde en eindstryd deurdring.

Kerria Primêr het egter in Groep B vasgeval en al sy groepwedstryde verloor, wat hom vroeg uitgeskakel het. Grosvenor, wat in groep D was, is ongelukkig ook uitgeskakel toe hy in twee van sy wedstryde gelykop gespeel en een verloor het, maar dit was nie goed genoeg om hom ’n plek in die kwarteindstryd te besorg nie.

Saxonsea het egter Atlantis-skole se naam hoog gehou toe hy in groep A in die tweede plek klaargemaak en vir die kwarteindstryd teen Dr. Van Der Ross Primêr gekwalifiseer het. Hy is egter met 2-0 in die eindstryd verslaan.

Atlantis se spanne kan baie tevrede voel, want die meeste van sy spelers is nog onder 12 en het goed teen die o.14-spelers gespeel.

In ’n opwindende eindronde het die vonke gespat tussen Hindle Road West en Dr. Van der Ross. Hindle Road West was egter te sterk vir Dr. Van Der Ross en het die eindstryd met 2-1 gewen om as die 2024-Distrikkampioen gekroon te word.

Volgens Warren Damonse is die toernooi goed deur die skole ondersteun as in ag geneem word dat dit tydens die eksamentydperk plaasgevind het.

Die provinsiale span sal later gekies word om die provinsie in KwaZulu-Natal teen die ander provinsies te gaan verteenwoordig.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article