Young Hearts het Saterdag op die grafkelder in nat en winderige toestande teen Vredenburg se Burg Boys te staan gekom en 10-17 vasgeval. Die tuisspan, wat rustyd 7-6 voor was, kon egter nie in die tweede helfte daarop voortbou nie.
Die wedstryd kon egter weens die modderige toestande nooit regtig vlamvat nie, maar die spelers het moedig probeer. Die besoekers, wat eerste op die telbord was met ’n strafskop en die wind van agter, is egter daarna in hul eie gebied vasgepen.
Die tuisspan het die gebiedsvoordeel in punte omgeskep toe die Burg Boys die een ná die ander strafskop afgestaan het.
Young Hearts, wat die nat bal goed beheer het, het daarna hul enigste drie gedruk, wat verdoel is.
Vredenburg, wat in die vaste skrums gesukkel het, het ook die meeste balbesit en gebiedsvoordeel in die wedstryd geniet, maar die tuisspan se rotsvaste verdediging het die besoekers op die agtervoet gehou.
Vredenburg het in die tweede helfte weer die voortou geneem met ’n derde strafskop nadat die besoekers vir 15 minute in die tuisspan kamp opgeslaan het. Young Hearts, wat ten spyte van die speeltoestande die meeste van die verdediging moes doen, se dissipline het egter die uitkoms van die wedstryd bepaal.
Die tuisspan het min van die bal in die tweede helfte gesien en die kere wat hulle wel die bal gehad het, kon hy dit nie ten volle benut nie. Dat die toestande dit wel moeilik vir al twee spanne gemaak het, het die besoekers dit beter benut. Vredenburg het in die wipplankstryd, wat tot aan die einde enige kant toe kon swaai, kalm gebly en die druk beter verwerk. . Die troepe van die grafkelder reis die naweek na die Agterbaai om Steenberg’s Cove te pak, wat teen St. Helenabaai vasgeval het. Mamre het Saterdag sy wiskundige kans lewendig gehou met ’n goeie 24-16-oorwinning oor Hopefield in ’n wegwedstryd. Die oorwinning het die groen truie van Kenny Stadler na die sewende plek laat klim en hulle pak die naweek Langebaan in Mamre. Hamlets het Hamadiahs in Athlone in die twee spanne se WP Superliga B-wedstryd 26-25 geklop. Atlantis se Superliga C-wedstryd teen Busy Bee is uitgestel.
Boland-uitslae
. Weskus:
Velddrif 22-29 Saldanha; Hopefield 16-24 Mamre; Langebaan 38-11 Piketberg; Young Hearts 10-17 Vredenburg; St. Helena 20-6 Steenberg’s Cove . Swartland:
Moorreesburg 22-29 Wesbank; Villagers Wittewater 3-44 Darling; Porterville 39-21 Young Eagles.


