Die nuwe hospitaalraad van die Wesfleur-hospitaal sal hul pligte moet begin nakom met talle klagtes wat instroom.
Volgens die gemeenskapsaktivis Peter Stoffberg het verskillende inwoners hom al genader om aandag aan swak dienslewering by die hospitaal te skenk. Volgens Stoffberg het hy vertroulik verneem dat die raad, wat verlede jaar aangestel is, weens verskeie redes nog nie vergader het nie. Stoffberg het aan WeskusNuus gesê die rede wat aangevoer is, is omdat die waarnemende uitvoerende hoof van die hospitaal “nooit beskikbaar is nie”.
“Mense gaan dood terwyl toegekyk word,” het hy gal gebraak en gesê mense moet nou begin verantwoordelikheid aanvaar vir wat by die hospitaal gebeur.
“Die raad gaan op hul tone gehou word, want as hulle dink hulle is daar om gesien te wees, maak hulle ’n fout,” het hy uitgevaar.
Volgens Stoffberg het hy met Joshua Swarts gepraat nadat hy reeds in 2022 gekla het oor dienste by die hospitaal.
Swarts het destyds gesê die hospitaal het sy vrou “vermoor” nadat mediese beamptes nie betyds na haar wou omsien nie en sy agt ure moes wag vir behandeling en uiteindelik gesterf het. Inwoners het ook toe met ’n vreedsame betoging by die hospitaal oor die swak dienslewering begin.
Volgens Natalie Watlington, ’n woordvoerder vir die departement van gesondheid, is bewerings dat die raad weens die afwesigheid van die bestuur nog nie kon vergader nie, onwaar.
Volgens Watlington was daar wel uitdagings in Desember met mense wat met verlof was, maar sy bevestig die eerste raadsvergadering het op 30 Januarie vanjaar plaasgevind.
Volgens Watlington word nog ’n vergadering beplan om die pligte en indeling van die raad te bepaal.


