Die Burg Boys en Saldanhabaai is steeds die voorlopers in die Boland Grootuitdaag-bekerkompetisie nadat hulle die afgelope Saterdag, 25 April, onderskeidelik met Young Hearts en Paternoster afgereken het op Vredenburg en by die Saldanha Transnet-stadion.

Op Vredenburg het die Burg Boys vir Young Hearts van Pella geklop in ’n harde maar beheerste wedstryd wat ondersteuners nie teleurgestel het nie. Young Hearts, wat in die vierde plek op die punteleer was, het van meet af gewys dat hulle nie maklike teikens sou wees nie en het die Burg Boys fisiek en vasberade uitgedaag.
Die wedstryd is vroeg reeds deur die voorspelers bepaal, met ’n stewige stryd voorlangs wat die toon vir die res van die kragmeting aangegee het. Teen rustyd het die Burg Boys met 15–7 voorgeloop.
Hoewel Young Hearts in die tweede helfte met meer struktuur en energie teruggeveg het, kon hulle nie deur die Burg Boys se goed georganiseerde verdediging breek nie. Die tuisspan het kalm gebly onder druk en hul voorsprong behou om uiteindelik ’n 25–10-oorwinning te beklink. Vir Young Hearts was daar wel positiewe tekens, maar hul vroeë terugslag in die liga en die gebrek aan afronding in sleutelmomente het hulle weer ingehaal teen ’n span wat min foute vergewe.

Op die Saldanha Transnet-stadion het Saldanha intussen Paternoster met 42–26 geklop ná ’n wedstryd van twee helftes. Kaptein Samuel Greyling en sy span het vroeg swaar gekry en was met rustyd net 14–12 voor, maar het ná die breek momentum opgebou en met ’n kragtige tweede helfte die oorwinning verseël.
Met dié uitslae is die toneel gereed vir Saterdag, 2 Mei, wanneer Young Hearts weer in aksie is teen Goedverwacht, terwyl die Burg Boys en Saldanha voortgaan om die tempo bo-aan die Weskusliga te bepaal.
Foto’s geneem deur Alida Buckle. As jy die foto’s aflaai of aanstuur, gee asseblief vir WeskusNuus erkenning.





























You must be logged in to post a comment.