Inwoners en leerders van Saxonsea Primêr maak gereed om die strate in te vaar teen geweld in die gebied.

“Hou op skiet; ons wil in vrede speel!” is die pleidooi van kinders in die bendegeteisterde Saxonsea-omgewing.

Die Atlantis-gemeenskapspolisiëringsforum, Saxonsea Primêr en die geestelike misdaadvoorkomingsgroep het die optog verlede Dinsdag (2 Desember) gereël. Volgens Julie Lubbe Rossouw van die plaaslike polisiëringsforum is die optog gereël om inwoners bewus te maak van die gevare rondom hulle.

Lubbe Rossouw het uitgevaar teenoor ouers wat niks van hul kinders wil weet wat ander en veral kinders in die omgewing se lewe ontwrig nie. “Die gemeenskap is baie meer as die bendes, maar tog lewe hulle in vrees en dit is nie veronderstel om so te wees nie,” het sy gekla. “Met eenheid kan ons egter baie vermag,” het sy aan die inwoners gesê.

Patricia van Rooyen het in Valleyfield naby ‘n bekende smokkelaar gepraat oor ouers wat hul kinders help deur vuurwapens in hul huise te hou. Sy het ouers gemaan om die regte ding te doen om ‘n veiliger omgewing vir almal te help bou.

Shameeg Prince (gewese 26-tronkbendelid) wat nou al twee jaar bekeer is, het die jongspan sterk aangespreek om nie deel van bendes te word nie, want die gevolge is die dood of tronkstraf.

Inwoners en veral jongmense is aangemoedig om eerder by die buurtwag aan te sluit om die gebied veiliger te maak. “Die polisie kan nie alleen misdaad bekamp nie, maar as inwoners saamwerk, kan baie meer gedoen word.”

Die kinders het terwyl hulle gestap het geskree: “Ons is moeg vir geweld!”, en het plakkate gewys wat lui: “Hou op skiet; ons wil in vrede speel”.

Dié sewejarige het ook sy frustasies beklemtoon met sy plakkaat wat lui: “Hou op skiet; ons wil in vrede speel”.
Gary Markus, die hoof van Saxonsea Primêr, hou ‘n ogie oor leerders voordat hulle die bende-geteisterde gebied invaar.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article