Aberdeen-sokkerklub se vyf-aan-’n-kant-sokkertoernooi sal beslis een van die grootste toernooie in Atlantis wees, meen die organiseerders Mark Cloete en Ruben Khan.
Dié toernooi, waarin 32 spanne gaan meeding vir die eerste prys van R20 000, sal op 7 Maart op die Saxonsea-sportterrein beslis word.
Met prysgeld van altesaam R35 000 is dié toernooi beslis een van die grootstes vir Atlantis en gaan van die beste klubs deelneem. Volgens Khan, ’n voormalige speler van dié klub, het hulle reeds baie navrae gekry.
“Die toernooi is nie net vir spanne wat deel is van klubs nie, maar ook vir spanne wat net sosiaal speel. Wedstryde duur net 15 minute aan ’n kant,” het Khan gesê.
Volgens Cloete het SAFA Kaapstad die groenlig vir die toernooi gegee en sal dit ook ’n lekker pretdag wees vir die hele gesin.
Khan meen die kompetisie gaan nuwe lewe in die klub blaas en die toernooi is in ooreenstemming met die klub se doel om weer een van die topspanne te wees.
“Ons het in 2018 ’n legende-ete gehou waar legendariese spelers soos Winston ‘Ysters’ Awood, Dominic Gordon, Mark Cloete, Colin Williams, Harold Petersen en Mike Barthers teenwoordig was. By dié ete het ons besluit dat Aberdeen weer sy regmatige plek in plaaslike sokker moet neem,” sê Khan.



