Terwyl die polisie spook om skieters aan te keer, word die strate steeds met bloed bevlek. In die jongste voorval is ’n jongman (22) Donderdagoggend tussen 08:00 en 09:00 in Neptune Castle doodgeskiet.

Volgens kol. Cyril Nkuna, plaaslike stasiebevelvoerder, is die oorledene drie keer getref. Hy het op die toneel aan sy wonde beswyk. Nkuna het ook bevestig dat geen verdagtes al weens die moord aangekeer is nie.

Volgens vertroubare bronne is die man vermoedelik deur lede van ’n bende vermoor omdat die oorledene glo nie lid van hulle bende wou word.

Volgens omstanders op die toneel was die oorledene nie by bende-aktiwiteite betrokke nie. Verslae inwoners kon nie verstaan hoekom hy geskiet is nie.

Nkuna sê die polisie het hul optredes onlangs in Atlantis verskerp en verskeie verdagtes is aangekeer. Hy het bevestig dat die polisie in Junie op vyf vuurwapens beslag gelê het en verskeie mense is oor dwelmverwante sake aangekeer.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article