Trane het Dinsdag (6 September) vrylik in die Atlantis-streekshof gevloei terwyl landdros Da Rocha Boltney die gebeure van 3 Mei 2021 geskets het.
Qwen Steenberg (25), die gewese kêrel van Charné Viljoen, het ná ’n pleitooreenkoms met die staat op al drie aanklagte – moord, poging tot moord en aanranding – skuld erken. Hy is 22 jaar gevangenisstraf opgelê, waarvan 18 jaar effektief is.
Viljoen was 21 jaar oud toe sy vermoor is.
Steenberg het in sy pleitooreenkoms erken sy dade is uit woede gepleeg. Die aanvanklike vermoede was Viljoen is kort ná haar mondigwording deur Steenberg vermoor omdat sy hul verhouding verbreek het en niks met hom te doen wou hê nie.
Volgens verklarings wat in die hof voorgelees was, het Steenberg reeds op 21 April 2021 getoon hy was gevaarlik toe hy een van Viljoen se vriende verskeie kere gesteek het.
Die moordenaar het Viljoen ’n week later aangerand en haar met die dood gedreig. Hy het op 3 Mei 2021 die daad by die woord gevoeg. Vriende, familie en ondersteuners het reeds vroeg die plaaslike hof volgepak en die landdros het familielede herinner aan die noodlottige dag wat Viljoen se lewe kortgeknip is.
Weens Steenberg se samewerking met die polisie ná die moord het die hof versagtende omstandighede in ag geneem. Volgens die pleitooreenkoms het Steenberg geen vorige misdaad-oortredings of hangende sake teen hom gehad nie en hy het berou getoon.
Janine Passenz van die Survivors Haven Foundation, wat die familie sedert Viljoen se moord bygestaan het, sê geen aantal jare in die tronk sal die verlies van ’n jong ma, dogter en kleinkind regverdig nie.
“Ons kan nou net hoop en vertrou dat die familie berusting sal vind noudat die saak verby is,” het Passenz gesê. Sy het ’n sterk boodskap gerig aan mense wat in verhoudings is waar hulle mishandel word, om weg te stap en hulp te kry.
“Ons het gehoop hy sou lewenslank kry, maar verstaan die versagtende omstandighede,” het Passenz gesê.





