’n Ouma van Oyster Place sal altyd bly wonder of dinge anders sou gewees het as sy “die belt meer gebruik het” om haar kleinseun saam kerk toe te sleep.
Francis Anne Present (66) vertel die huis is doodstil sedert haar kleinseun Breyton Present (16) Woensdag 29 Junie doodgeskiet is.
Volgens die oorledene se ma, Jo-Anne Present (34), is hierdie die tweede aanslag op haar seun, en ongelukkig was die skieters dié keer suksesvol.
“Hy het hier anderkant saam met vriende in die son gesit toe die ouens daar aankom en begin skiet. Die bure het ons kom roep en ek het onmiddellik begin bid dat hy nie dood is nie. Toe ons daar kom, toe was dit so.
“Ek het daar by hom gesit en huil terwyl my vriend ’n gebed gedoen het,” vertel Jo-Anne oor haar enigste seun se doodstyding.
Die ouma sê sy het gevrees so iets gaan gebeur en vertel Breyton het sedert November in “verkeerde kringe” begin beweeg.
Volgens Francis was haar kleinseun ’n goeie kind wat in sokker uitgeblink het.
“Hy was ’n goeie seun en ’n rustige jong man voordat die wêreld sy hande op hom gekry het. Dit kom van wil inpas en agter die maatjies aangaan. Dit het nou die einde vir hom beteken.
“Hy is baie geboelie hier toe hy klein was en dalk het hy gedog om die bendes te join, is ’n manier om homself daarteen te beskerm.
“Hy het probleme by die skool gehad en moes ook agterna skool los weens gangsters se dreigemente.
“Voor dit was hy ’n tipiese jong seun wat lief was vir eet en om ons te terg in die huis. In 2018, toe hy in graad vyf was, het hy ’n sertifikaat gekry omdat hy elke dag by die skool was.
“Hy het egter skool in graad agt verlaat.
“Ek moes altyd die belt gaan haal het om hom te kry om saam met my kerk toe te gaan. As ek dit dalk aangehou doen het, sou hy dalk nie sy aandag tot verkeerde dinge gewend het nie.
“Dalk sou hy nog hier met ons gewees het,” vertel die ouma terwyl sy haar hande styf wring.
Kapt. FC van Wyk, ’n polisiewoordvoerder, sê ’n 17-jarige verdagte van Penelope-straat in Avondale, Atlantis, het hom vir die moord op Breyton aan die polisie oorgegee.





