Swartland Munisipaliteit is die top munisipaliteit in land
Swartland se uitvoerende burgemeester Harold Cleophas en munisipale bestuurder Joggie Scholtz (middel) met die toekenning. Foto: Swartland Municipality

Te midde van koerantopskrifte in Suid-Afrika wat steeds die fiskale ineenstorting van talle plaaslike regerings uitlig, weier die Swartland en ’n handjie vol ander munisipaliteite om toe te gee aan die druk van swak bestuur.

Só sê die Swartland-munisipaliteit in ‘n verklaring kort nadat hulle as die toppresterende munisipaliteit in die land aangewys is.
“Streng en gedissiplineerde finansiële bestuur is die hoeksteen van hierdie prestasie wat verantwoordelike munisipaliteite soos die Swartland in staat stel om meer met minder te doen,” lui die verklaring.

Dié gesogte toekenning wat die Swartland met die Saldanhabaai-munisipaliteit deel, is Donderdagaand (2 Oktober) gedurende die nasionale Munisipale Prestasietoekenningsgeleentheid by Sun City oorhandig, ‘n spogaand aangebied deur die Suid-Afrikaanse Eiendomseienaarsvereniging (SAPOA) in samewerking met Ratings Afrika en die Bankvereniging van Suid-Afrika, BASA.

Die munisipaliteit verduidelik hierdie erkenning is gebaseer op navorsing behartig deur onafhanklike kenners buite die regering en politieke sfeer, verkry vanaf die Ratings Afrika se munisipale finansiële volhoubaarheidindeks, wat dié prestasie nog meer besonders maak.

Saldanhabaai-munisipaliteit se uitvoerende burgemeester, Andrè Truter (derde van regs) en munisipale bestuurder, Heinrich Mettler met die gesogte toekenning wat hulle met Swartland-munisipaliteit deel. Foto: Facebook/ Executive Mayor Andrè Mayor

Die Swartland het intussen hulle puntetelling op die nasionale ranglys sedert verlede jaar vanaf 71 uit 100 na 74 uit 100 laat toeneem, ‘n doelwit daargestel deur die uitvoerende burgemeester Harold Cleophas.

“Ons is nie perfek nie, en ons maak nie daarop aanspraak nie. Dit bevestig egter dat ons die regte dinge doen, die basiese beginsels reg kry, en ’n stewige grondslag lê,” sê die munisipale bestuurder, Joggie Scholtz.
“Hierdie prestasie is ’n spanpoging, gedryf deur elke toegewyde amptenaar in ons munisipaliteit wat onder geweldige druk werk om gehalte dienste aan ons inwoners te lewer, ten spyte van groot ekonomiese uitdagings,” sê Cleophas. Hy meen die prestasie weerspieël die toewyding en harde werk van die raad en die vennootskappe wat ontstaan wanneer alle rolspelers in die regering saamwerk. “Dit is ook ’n bewys van die inwoners se vertroue in ons en wat ons doen,” voeg hy by.

Saldanhabaai se uitvoerende burgemeester, Andrè Truter het in ‘n Facebook-plasing gesê die munisipaliteit betuig sy “hartlike dankbaarheid aan ons inwoners, gemeenskappe, besighede en belanghebbendes.

“Julle vertroue, ondersteuning en vennootskap het ons in staat gestel om hierdie hoogtes te bereik en voort te gaan om na uitnemendheid te streef. Hierdie toekennings is nie net toekennings nie; dit is ‘n bewys van wat ons saam kan bereik.”

Swellendam- en Hessequa- munisipaliteite was onderskeidelik in die tweede en derde plek.

Dieselfde aand het die Breedevallei-munisipaliteit drie toekennings vir goeie bestuur ontvang by die Nasionale toekenningsgeleentheid vir Goeie Regeringsbestuur, aangebied deur die nasionale Minister van samewerkende regering en tradisionele Sake (CoGTA), Fiki Hlabisa, by die Gallagher-konferensiesentrum in Johannesburg. Dit is gehou tydens die jaarlikse plaaslike regering Indaba.

Die Weskus-distriksmunisipaliteit het by dieselfde toekenningsgeleentheid die prys vir die bes bestuurde munisipaliteit ontvang het, hoofsaaklik danksy die voltooiing van 14 opeenvolgende skoon oudits en 100% besteding aan kapitaalprojekte.

Die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit het op sy beurt ook twee toekennings ontvang wat grootliks spruit uit sy 11 opeenvolgende skoon oudits en die munisipaliteit se volgehoue ​​rekord van die handhawing van gesonde, befondsde begrotings oor die afgelope dekade.

Die uitvoerende burgemeester dr. Elna von Schlicht het die aankondiging verwelkom en gesê:
“Die KWDM is trots daarop om erkenning te ontvang vir die finansiële bestuur, 11 opeenvolgende ‘skoon oudits’ en die handhawing van gesonde befondsde begrotings – ek betuig my diep waardering aan ons begrotings- en tesouriekantoor en alle amptenare wat die ekstra myl loop.”

Volgens die DA se woordvoerder oor plaaslike regering in die Wes-Kaap, Dave Bryant, kom hierdie toekennings op ‘n tydstip waar die Ouditeur-Generaal steeds wydverspreide mislukkings in munisipaliteite regoor die land blootlê.

Die Wes-Kaap minister van plaaslike regering, Anton Bredell het in ‘n verklaring gesê die finansiële bestuur van ‘n munisipaliteit is die fondament waarop alle ander aspekte van plaaslike regering gebou word. “‘n Skoon oudit beteken nie dat daar geen armoede, ongelykheid, misdaad of werkloosheid is nie. Maar dit beteken dat die munisipaliteit die geld wat aan hulle toevertrou is, vir die bedoelde doel en binne die toepaslike wetgewing gebruik het. Sonder dit kan jy nie begin om die ander uitdagings aan te spreek waarmee alle munisipaliteite in Suid-Afrika te kampe het nie.”

Tertius Simmers, die DA-leier in die Wes-Kaap het gesê hierdie nasionale toekennings vier munisipaliteite wat uitmuntende finansiële bestuur, dienslewering en infrastruktuurbelegging toon, wat ‘n maatstaf vir uitnemendheid in plaaslike regering daarstel.

Simmers het namens die DA in die Wes-Kaap sy lof en gelukwensing uitgespreek teenoor hul kollegas in die Oos-Kaap waar die Kouga-munisipaliteit as toppresteerder weggestap het. In Gauteng het die Midvaal-munisipaliteit met die topprys weggestap.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article