Die Wes-Kaap is amptelik een maand lank bek-en-klouseer (BKS) vry nadat geen nuwe gevalle van dié gevreesde virussiekte aangemeld is nie, het die premier, Alan Winde, in ‘n gesamentlike verklaring met die provinsiale minister van landbou, ekonomiese ontwikkeling en toerisme, dr. Ivan Meyer, bevestig.
Met die opskerping van inentings in die provinsie is tekens van stabilisering in die nasionale uitbreking van BKS in die Wes-Kaap verwelkom. Winde het egter beklemtoon volgehoue waaksaamheid bly noodsaaklik om verdere verspreiding te voorkom.
“Die mees onlangse geval van BKS is op 22 Maart 2026 in Prospect Hill in die Stad Kaapstad geïdentifiseer. Sedertdien is geen nuwe bevestigde gevalle aangemeld nie, wat ‘n volle maand sonder ‘n nuwe geval in die provinsie beteken,” het Winde gesê.
Toetse vir ander verdagte gevalle in Hessequa en Bonnievale was negatief en die laaste bevestigde geval in die Tuinroete is op 28 Februarie aangeteken.
Meyer het op sy beurt beklemtoon hoe inenting die hoeksteen van die provinsie se siektebeheerstrategie bly.
LEES OOK: Western Cape boosts FMD fight with 50 000 new vaccine doses
“Bek-en-klouseer hou ‘n ernstige en voortgesette bedreiging vir ons veebedryf, voedselsekerheid en landelike bestaansmiddele in. Inenting bly die hoeksteen van die Wes-Kaap se siektebeheerstrategie, soos duidelik in ons 21-punt-plan uiteengesit. Die Wes-Kaap sal voortgaan om met die nasionale departement van landbou saam te werk om te verseker dat die provinsie sy regverdige aandeel entstowwe ontvang sodat ons daadwerklik kan optree om ons boere en die breër landbou-ekonomie te beskerm.”
Altesaam 161 713 entstofdosisse is tot dusver by 730 persele toegedien, wat 35%-dekking oor die provinsie verteenwoordig. Dit sluit 7 925 versterkingsdosisse in.
Inentingsdekking is tans die hoogste in die Weskus (63%) en die Stad Kaapstad (56%), gevolg deur die Kaapse Wynlande (35%) en die Tuinroete (31%). Geen inentings was in die Sentrale Karoo en Overberg-distrikte nodig nie, waar geen bevestigde uitbrekings aangeteken is nie.
Om immuniteit te versterk en oorblywende gapings te sluit, word ‘n bykomende 50 000 dosisse van die Bioaftogen-entstof luidens die verklaring na prioriteitsgebiede ontplooi. Hierdie fase fokus volgens die departement op versterkingsinentings, herinenting van voorheen geraakte plase, beeskuddes binne ‘n 10-km-radius van besmette plase, asook gemeenskaps- en peri-stedelike beeste in munisipaliteite wat deur die siekte geraak is. Verbeterde monitering, streng bewegingsbeheer, permittoepassing en naspeurbaarheidsmaatreëls geld steeds om die gevaar van verdere verspreiding te beperk.
Winde het veeboere en -eienaars aangemoedig om hul rol in die beskerming van die provinsie se landbousektor te volstaan.
“Boere en veeboere is kritieke vennote in hierdie poging. Ons doen ‘n beroep op hulle om streng biosekuriteit op plase te handhaaf, aan bewegingsbeheerregulasies te voldoen, enige verdagte gevalle onmiddellik aan te meld en ten volle met inentingspanne saam te werk,” het hy gesê.
Hy het voortgegaan deur te sê die afwesigheid van nuwe gevalle sedert 22 Maart, tesame met hul uitbreidende inentings- en moniteringsprogram, wys die beheermaatreëls werk.
“Die risiko bly egter ‘n werklikheid en ons mag nie selfvoldaan raak nie.”





