Wellington se Charl Williams is verlede Saterdag (28 Februarie) op die provinsiale sporttoekennings by Nederburg in die Paarl as die Wes-Kaapse sportmedia Joernalis van die jaar aangewys.
Die geleentheid, aangebied deur die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport, het sportlui in die provinsie vereer. Provinsiale wenners is aangewys nadat ses distriksprysuitdelings vroeër vanjaar plaasgevind het. Die wenners sal nou benoem word vir die nasionale sporttoeken- nings wat later vanjaar sal plaasvind.
Vir Williams kom die provinsiale erkenning kort nadat hy vroeër in Februarie as sportmediajoernalis van die jaar by die Kaapse Wynland-sportprysuitdeling in die Paarl-stadsaal aangewys is. Sy werk fokus veral op skolesport en sport op gemeenskapsvlak.
Williams, wat vir die eerste keer met die provinsiale titel wegstap, beskryf die erkenning as “ ’n groot voorreg en eer”.
“Dit bevestig die opofferings en ure se harde werk wat agter die skerms ingesit word, veral in gemeenskapsmedia. Dit motiveer my om aan te hou om plaaslike sport en jong talent op die voorgrond te plaas,” sê hy.
Hy was vir langer as 14 jaar ‘n sport- anker by die plaaslike radiostasie. WIlliams skryf ook rugbyberigte vir Paarl Post.
Daarna het hy sy eie aanlynplatform, Boland Live, van stapel gestuur om plaaslike sport groter blootstelling te gee. Hy lewer ook reeds vir ongeveer sewe jaar sportberigte op vryskutbasis vir Paarl Post.
LEES OOK: Western Cape honours sporting excellence at 2026 awards
Benewens sy skryfwerk doen Williams tans vryskutwerk as rugby- en klubrugby-
kommentator en sportaanbieder vir Winelands Studio, asook vir SuperSport Schools, waar hy as kommentator by skolesport- en klubrugby-uitsendings betrokke is.
Williams werk voltyds as verkoopsverteenwoordiger by SAC Commercial Parts in die Paarl, ‘n bewys van sy volgehoue toewyding aan sportmedia ondanks ‘n voltydse beroepsloopbaan.
Ander wenners
Die Springbok-rugbyspeler Sacha Feinberg-Mngomezulu is sportman van die jaar, terwyl die Eden-krieketspeler Annerie Dercksen as sportvrou van die jaar aangewys is. Ruehan van Romburgh van die Overberg is as afrigter van die jaar vir sy prestasies in skopboks vereer.
In die kategorieë vir sportlui met gestremdhede het Mpumelelo Mhlongo die titel as sportman met ‘n gestremdheid verower, terwyl Minke Janse van Rensburg as die beste sportvrou aangewys is.

Die Oakdale 560 kg-toutrekspan van Eden het beide die toekennings vir span van die jaar en junior sportspan van die jaar gewen, terwyl Lizela Maart van die Sentraal-Karoo sportadministrateur van die jaar is. Duncan Keet het die toekenning as sportvrywilliger van die jaar ontvang.
In die skolekategorieë is Zius Brand (Overberg) en Mia Botha (Eden) onderskeidelik as skole-sportman en skole-sportvrou van die jaar aangewys.
Die Swartland-gemeenskapsportsentrum is as ontspanningsliggaam van die jaar vereer, Eden Fietsry as distriksfederasie van die jaar en Western Cape Dance Sport as provinsiale sportfederasie van die jaar.
Die Wes-Kaapse minister van kultuursake en sport, Ricardo Mackenzie, het ook ministeriële toekennigs aan Louis Massyn en Mark Ward oorhandig vir hul besondere bydrae tot sport in die provinsie.





