‘n Byeboer van Wellington het ongeveer R175 000 se skade gely nadat 70 van sy byekorwe op 7 Augustus op ‘n plaas buite Hermon, waar dit in kanolande gestaan het, gesteel is.
Volgens Johann Kotze (31), ‘n inwoner van Wellington, het hy dié onderneming, genaamnd JCK Honey, 11 jaar gelede gestig om ‘n ekstra inkomste te verdien. Volgens hom verpak hy self sy heuning, waarna hy dit op plaas- en feesmarkte verkoop.

Hy het gesê hy het laat die aand op 7 Augustus agtergekom sy byekorwe is op die betrokke plaas gesteel nadat hy sy rondes gedoen het om sy beyekorwe na te gaan.
Hierdie gesteelde korwe was sowat 2km van die openbare pad in kanolalande – juis om diefstal te voorkom.
Kotze vermoed iemand het hom dalk “dopgehou” of kon die byekorwe steeds op ‘n manier van die pad af sien. Sy kiste is met ‘n unieke nommer “WC0189” gemerk.

Volgens hom is hy steeds optimisties dat hy sy gesteelde korwe sal sal terugkry omdat die nuus van die diefstal reeds wyd en syd gedeel is.
‘n Jaar gelede is ongeveer 15 van sy korwe gesteel, maar dié het naby aan ‘n openbare pad gestaan. Hy het nooit hierdie korwe teruggekry nie.
Kotze skat sy verlies, bestaande uit die 70 korwe en die bestuiwings waarvoor die boer op wie se plaas hy die korwe in die kanolalande geplaas het, hom sou betaal, op sowat R175 000.
Hierdie bedrag sluit egter nie die swerms bye in wat ook verlore gegaan het nie, omdat dit moeilik is om ‘n geldwaarde hieraan te voeg.
Volgens Kotze vang hy meestal sy eie bye deur kiste wat hy met ‘n soet vloeistof smeer om die bye lok, of swerms wat hy by mense se huise of op ander plekke verwyder.
Hy het ‘n bewys gestuur van ‘n klagte wat hy by die Wellington-polisie aangemeld het, maar wat na die Riebeeck-Wes-polisiekantoor oorgeplaas is.
Volgens sers. Henry du Rand, ‘n woordvoerder verbonde aan die Malmesbury-polisie, is geen so ‘n saak egter op die Riebeeck-Wes-polisiekantoor se databasis nie.





