KIMBERLEY – Terwyl etlike Noord-Kaapse regeringsprogramme in Roodepan en Platfontein by Kimberley plaasvind op die vooraand van die soveelste tussenverkiesing in dié wyk van die Sol Plaatje-munisipaliteit, loop politieke partyverteenwoordigers van deur tot deur om mense te oortuig om hul kruisies op 23 Julie langs hul embleme te trek.
Dit kom ná die bedanking van Johan Loff, PA-raadslid, nadat hy deur partyleier Gayton McKenzie in Mei vanjaar op ʼn regstreekse uitsending op sosiale media afgedank is. Loff is verbitterd omdat hy op onsmaaklike wyse ” ‘n ding genoem is”. Hy het hierna sy bedanking ingedien “omdat sy weg met die party geskei het”. Loff sê hy het sy allerbeste gedoen om dienslewering te verbeter, maar McKenzie het “onhaalbare beloftes aan kiesers gemaak”.
Nou klop “heelwat partye en mense aan my deur, maar ek het nie besluit wat om te doen nie. Ek gaan nie as onafhanklike kandidaat staan nie. My lewe bly in gevaar na die afgelope gebeure,” sê hy.
Soveelste tussenverkiesing in wyk 1
Dit is die soveelste tussenverkiesing in die afgelope drie jaar in wyk 1.
Dié reeks tussenverkiesings het in vroeg 2023 begin met ‘n tussenverkiesing nadat ‘n ANC-wyksraadslid oorlede is. In die daaropvolgende tussenverkiesing is Ferguson Moses vir die ANC verkies, maar vyf maande daarna het hy na die PA oorgeloop.
Dit het nog ‘n tussenverkiesing ontketen. Intussen het die DA-kandidaat op onverwagse wyse na die PA oorgeloop, en was dit te laat vir die DA om ‘n ander kandidaat te registreer.
Nadat Loff verkies is, het die ANC sy meerderheid setels in die raad verloor. Die ANC steun op die twee Good-verteenwoordigende raadslede om raadsbesluite deur te voer.
“Daarom is die ANC bekommerd oor die tussenverkiesing. Die ANC wil nie meer op Good steun nie. Good stel eise aan die ANC in ruil vir ondersteuning in die raad, en sit sy twee raadslede albei op die burgemeesterskomitee,” sê Loff.

Hy sê Roodepan en Platfontein ly dekades onder swak dienslewering.
“Die horingoue, afgeleefde munisipale woonstelle bly die grootste probleem. Weens kabeldiefstal is daar gedurig kragonderbrekings, en gegalvaniseerde pype wat bars veroorsaak lekplekke. Krane werk nie meer nie.
“Die paaie is in uiterste swak toestand, die straatligte werk nie. Sinkhuise in Lethabopark oorstroom gedurig weens ‘n foutiewe pompstasie en vloedwater omdat driekwart van Roodepan se stormwaterslote verstop is.”
Verkiesingsbeloftes gemaak wat moeilik is om na te kom
Volgens Loff het McKenzie in sy verkiesingsveldtog beloftes gemaak. Die woonstelle se loodgieterprobleme sou reggemaak word, Platfontein sou ‘n swembad en ‘n parkie kry en die plaaslike sokkerspan truie.
“Dit is onmoontlik vir een wyksraadslid van ‘n opposisieparty om die beloftes binne maande na te kom. Ek het self betaal om pype in sommige woonstelle te laat regmaak. Dit sal R250 000 kos om die ruite in Platfontein reg te maak, terwyl sommiges die ruite uitslaan omdat hulle vuur in hul huise maak.”
Die onderonsie met die partyleier het glo ontstaan omdat Loff genoem het dat hy nie aan die 2026-verkiesing gaan deelneem nie.
“Ek het nie bedank nie. Toe, in ‘n regstreekse uitsending van McKenzie word ek beledig en ‘n ding genoem en afgedank.”
Die uitsending is van die PA se Facebook-blad verwyder, maar Loff het ‘n videogreep behou. Hierin sê McKenzie: “Môre moet hy nie meer lid van die PA wees nie. Ek gaan die speaker van die munisipaliteit laat weet hy is met onmiddellike effek uit die party geskors. Ek gaan daarheen om verskoning te vra aan daardie mense. Want ek het in daardie strate geloop en ek het vir hulle gesê om vir die ding te stem. Ek gaan vir hulle sê ek is verkeerd, ek vra om verskoning, ek het julle mislei.”
Volgens aanduidings gaan die ANC, DA, PA, EFF en MK aan die tussenverkiesing deelneem.
Programme wat onlangs deur die Noord-Kaapse regering in Roodepan uitgevoer is, is:
- die bekendstelling van die basiese-onderwys-indiensnemingprogram op 20 Junie by die Laerskool Roodepan;
- ‘n Jeugdagviering by die Laerskool Lucretia; en
- die munisipaliteit en departement van landbou, omgewingsake en landelike ontwik-keling het op 20 Junie die Harvestime-park opgeruim om die rol van die jeug in landbou en landelike ontwikkeling te belig. Gratis veeartsdienste en ‘n jeugmarkdag is aangebied.

You must be logged in to post a comment.