VrystaatKroon

Waarnemende skoolhoof vir Witteberg stap vooruit met meer as drie dekades in onderwys

Logo van die Hoërskool Witteberg
Die Hoërskool Witteberg. Logo: Verskaf

BETHLEHEM. Die Hoërskool Witteberg in Bethlehem het met trots aangekondig dat Mike Visser as waarnemende skoolhoof vir 2026 aangestel is.

Visser, wat reeds 34 jaar lank by die skool betrokke is, word as ‘n ervare en gerespekteerde leier beskryf.

“Ek sien baie uit om die skool, as deel van ‘n spanpoging, verder te dien en lei,” sê hy.

Mike Visser is as waarnemende skoolhoof van die Hoërskool Witteberg in Bethlehem vir 2026 aangestel. Foto: Verskaf

Visser het in 1989 sy onderwysloopbaan aan die Hoërskool Hentie Cilliers in Virginia begin en hom in 1991 by Witteberg aangesluit. In 1993 is hy as departementshoof vir lewenswetenskap en in 2018 as adjunkhoof en akademiese hoof aangestel.

Benewens sy vermoë as bekwame leier, is Visser welbekend as ‘n toegewyde sportafrigter, veral in rugby. Hy het ook tussen 2015 en 2021 as senior nasiener vir lewenswetenskap opgetree, en sedert 2022 dien hy as adjunk-hoofnasiener van die Nasionale Seniorsertifikaat-eksamen. As akademiese hoof verseker Visser dat Witteberg se akademiese peil ’n bron van trots bly. Sy akademiese agtergrond sluit ‘n BSc-graad in dierkunde, sowel as ‘n nagraadse onderwyskwalifikasie wat hy aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) verwerf het.

Sarel Venter, voorsitter van die skool se beheerliggaam, sê die Hoërskool Witteberg sal voortbou op die sterk fondament waarop die skool reeds staan. 

“Met ’n bekwame bestuurspan, toegewyde opvoeders en die betrokkenheid van ons beheerliggaam, verseker ons dat die hoogste peil van onderrig en opvoeding deurentyd gehandhaaf word,” sê Venter.

Gustav Dreyer, bemarkingshoof, spreek sy afwagting uit oor dit wat die nuwe jaar kan inhou.

“Witteberg sien met groot verwagting uit na 2026 en wil alle ouers, leerders en die gemeenskap verseker dat die skool steeds voortbou, uitbrei en altyd vooruit beweeg,” sê Dreyer.

You need to be Logged In to leave a comment.