Ruvuan Olivier nuwe Skoolhoof van Hoërskool Bonnievale
Ruvuan en Adri Olivier (Foto verskaf)

Ruvuan Olivier nuwe Skoolhoof van Hoërskool Bonnievale


Hoërskool Bonnievale is trots om aan te kondig dat mnr. Ruvuan Olivier as nuwe Skoolhoof op 1 Julie 2026 by hulle aansluit.

Mnr. Olivier bring ’n skat van ondervinding in onderwys en skoolbestuur met hom saam. Die afgelope 15 jaar het hy as adjunkhoof van Hoërskool Transvalia in Gauteng gedien. Daar het hy ’n sleutelrol gespeel in akademiese, administratiewe en strategiese bestuur. Mnr. Olivier is passievol oor sport en het oor die jare ’n sterk naam opgebou in skolerugby. Hy was onder meer voorsitter van die Valke Hoërskole‑rugby, sekretaris van Noordvaal Hoërskole‑rugby, en afrigter van verskeie spanne.

Op akademiese gebied lê sy liefde by Wiskunde en Wiskundige Geletterdheid. Hy was adjunkhoofafrigter vir Wiskundige Geletterdheid in Gauteng. Ook was hy betrokke by die nasionale span wat leerprogramme vir meer as 150 000 leerders help ontwikkel het.

Mnr. Ruvuan Olivier, nuwe Skoolhoof van Hoërskool Bonnievale, word vergesel deur sy vrou, Adri, met wie hy binnekort twintig jaar getroud is. Adri is self ’n ervare opvoeder in Wiskunde en Wiskundige Geletterdheid, besig met haar meestersgraad, en passievol oor gehalte‑onderwys. Sy is ook aktief betrokke by sport as voorsitter van Rhino Netbal en afrigter van verskeie spanne.

Van die eerste ontmoeting af was dit duidelik dat Mnr Olivier ’n ware leier is met ’n hart vir mense en ’n visie vir die toekoms. Ons sien uit daarna om saam met hom te werk en te beleef hoe hy Hoërskool Bonnievale na nuwe hoogtes gaan lei.

“’n Spesiale woord van dank gaan aan mnr. en mev. Olivier vir hul tyd en toewyding tydens die aanstellingsproses, asook aan mnr. Brink vir sy uitstekende bydrae.”

https://hsbonnievale.co.za/

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article