“Sonder woorde vir die moorde wat in Bredasdorp gebeur… Nog een, en dit binne net ‘n paar weke.”
Só lui Jacques Francois Harmse se plasing op Facebook na aanleiding van die moord op Elvin Mark Olivier verlede naweek. Dit is die vyfde moord wat die afgelope vier maande in dié dorp gepleeg is.
Daylon Arendse is in April buite ‘n nagklub in Bredasdorp doodgesteek; Zanie Vaaltyn en ‘n 65-jarige man is in Mei binne 10 minute van mekaar vermoor; die geliefde oudonderwyser Sammy Cloete se liggaam is op 12 Julie met een steekwond aan sy nek gevind en Saterdag is Olivier ook doodgesteek.
Talle mense het in reaksie op Harmse se plasing hul medelye met Olivier se familie en hul skok oor nóg ‘n wrede en sinlose moord op dié plattelandse dorp uitgespreek. Iemand se kommentaar het gelui: “Wat gaan aan in Bredasdorp? Ons as gemeenskap moet saamstaan en die euwels in ons dorp uitroei.”
“Nog ‘n sinlose moord,” het iemand anders geskryf.
‘n Ander het ‘n beroep op geestelike leiers gedoen om saam te staan en vir die dorp te bid en bygevoeg: “Dis tyd dat daar gebid word op daai grond… Daai bose magte en geeste moet uitgesit word uit die dorp.”
Francois Abrahams, ‘n boorling van die dorp, het ook op Facebook geskryf: “Moord nommer 5 in Bredasdorp. April– 1; Mei – 2; Julie – 2.
“Bredasdorp is nie meer veilig nie.”
Abrahams het hom op 12 Julie ná die afgetrede onderwyser Sammy Cloete (82) se moord ook sterk uitgespreek oor die toenemende aantal moorde in sy geboortedorp: “Dit maak my woedend – woedend omdat ons nagelaat het om ons bejaardes te beskerm; woedend, want die huis oorkant Oom Sammy is al vir dekades ‘n steen des aanstoots en niemand verroer ‘n vinger om dit tot op sy fondament te bring nie. Woedend omdat dit die vierde moord in drie of vier maande is; woedend omdat die beligting in daardie omgewing swak is; woedend omdat my dorp dit so gemaklik maak vir moordenaars om die vrede te versteur; woedend omdat ‘n mens net hoor van ‘veiligheidsplanne en vergaderings met ‘n minister’, maar niks loop uit op die bevordering van misdaadbekamping nie; woedend om te begryp dat iemand wat sy alles vir die opvoeding van ‘n gemeenskap gegee het, deur dieselfde gemeenskap gefaal is.
“Ek is woedend vir Bredasdorp. Ek is woedend!”
Die feit dat ‘n 16-jarige vir Cloete se moord sowel as die inbraak by sy huis en die diefstal van sy voertuig aangekla is, het die gemeenskap verder ontstel, veral aangesien nóg ‘n 16-jarige in Mei saam met sy broer in verband met twee moorde wat binne 10 minute van mekaar gepleeg is, in hegtenis geneem is. (“Twee broers van Bredasdorp agter tralies vir moorde”, Hermanus Times, 21 Mei).
Kol. Mbuyiseli Mtingane, waarnemende bevelvoerder van die Overberg-distrik, het ook sy kommer uitgespreek oor die toenemende aantal tieners en minderjariges wat in hegtenis geneem word, maar het die versekering gegee dat “rolspelers uit verskeie sektore deur middel van die gemeenskaps-veiligheidsforum met die polisie hande vat om misdaad te bekamp.
“Verskeie organisasies en departemente, insluitend munisipaliteite, die departement van maatskaplike ontwikkeling en die onderwysdepartement, is by die forum betrokke,” het hy verduidelik.
Mtingane het die moorde in Bredasdorp as “opportunistiese misdade” beskryf en gesê dit dui daarop dat dit nie weens georganiseerde misdaad was nie.
“Die feit dat ons verdagtes in byna al die sake in hegtenis geneem het, is bewys daarvan,” het hy bygevoeg.
Lt.kol. Anneke Durand, die stasiebevelvoerder van die Bredasdorp-polisie, het bevestig die polisie is Saterdag omstreeks 02:25 na die toneel op die hoek van Lang- en Akasiastraat ontbied, waar die slagoffer blykbaar gelê het. Olivier was alleen toe hy deur sy aanvaller oorval, beroof en gesteek is.
Durand het bevestig dat een verdagte in hegtenis geneem is en Maandag (28 Julie) in die Bredasdorp-landdroshof verskyn het. Sy deel die gemeenskap se kommer oor die aantal moorde die afgelope ruk in Bredasdorp. “Hierdie voorvalle is tragies en ons deel die gemeenskap se kommer oor die veiligheid van almal in ons dorp,” het sy gesê.
Sy het egter ‘n beroep op die gemeenskap gedoen om die polisie in die stryd teen misdaad by te staan deur enige verdagte aktiwiteite of mense dadelik aan te meld. Sy het inwoners ook gemaan om veral saans in groepe te beweeg, hekke en deure altyd gesluit te hou, goeie beligting om hul eiendom aan te bring en dat ouer mense en kinders moet na winkels en openbare plekke begelei word.
“Ons vra dat die gemeenskap kalm bly, meer waaksaam moet wees en hul vertroue in die prosesse plaas,” het sy bygevoeg.







