BLOEMFONTEIN – Die nuwe parlementêre leier van die DA, George Michalakis, wat Donderdag aangewys is, kom uit Winburg in die Vrystaat.
Roy Jankielsohn, die DA se leier in die Vrystaat, sê die party is trots op Michalakis se aanstelling.
“As Vrystaters is ons baie trots dat een van ons met so ‘n belangrike leierskapsrol op nasionale vlak vertrou word,” sê Jankielsohn.
Hy sê Michalakis het deur sy politieke loopbaan gewys hy is ‘n beginselvaste leier met goeie oordeel wat hom aan die lewering van goeie dienste toewy.
“Sy aanstelling is nie net ‘n erkenning van sy vaardighede nie, maar ook ‘n bewys van die goeie leierskap wat uit die Vrystaat kom,” sê Jankielsohn.
Michalakis het sy regsgraad aan die Universiteit van die Vrystaat behaal asook ‘n BA-honeursgraad in Frans. Hy is aanvanklik as ‘n raadslid vir die Lejweleputswa Distriksmunisipaliteit gekies waar hy van 2011 tot 2014 gedien het.
Van 2014 tot 2024 het hy die Vrystaat op die Nasionale Raad van Provinsies verteenwoordig.
Hy was sedert Julie 2024 die DA se hoofsweep in die Nasionale Vergadering en dien sedert Junie 2025 as ‘n parlementslid. Hy dien op verskeie parlementêre komitees.
Jankielsohn sê die DA glo die party se parlementêre koukus is in goeie hande onder Michalakis se leierskap in ‘n tyd waarin Suid-Afrikaners verantwoordelikheid en betekenisvolle oplossings vir die land se probleme soek.






