Betrokkenes by AfriForum se Viljoenskroon-tak en lede van die gemeenskap het ingespring om die uiters verwaarloosde begraafplaas op te ruim.
Die organisasie sê die begraafplaas was in so ’n haglike toestand, dit het ’n verleentheid geskep indien daar ’n begrafnis moes plaasvind. Dit was ook vir besoekers ontoeganklik.
Inwoners en lede van AfriForum het in Mei ingespring vir ’n opruiming van die begraafplaas. Brandstof is geskenk en Otto Kirsten het ’n trekker, twee sleepwaens en werkers beskikbaar gestel.
Die opruiming is suksesvol voltooi en ná die winter sal die begraafplaas met onkruiddoder gespuit word om die groei van bossies en onkruid te bekamp.
“Die haglike toestand van die begraafplaas is net weer ’n bewys van die verval wat in die munisipaliteite heers. Ek is egter baie dankbaar dat die gemeenskap en die plaaslike tak die trots het om in te spring en hul geliefdes se laaste rusplek netjies te maak en netjies te hou. Baie dankie aan elkeen wat ’n bydrae gelewer het. Saam is ons sterker,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mooirivier.
Vir meer inligting oor die tak se bedrywighede, bel Attie Barnard by 082-557-1428.





