Die skielike daling in die watervlak van die Serfonteindam, ’n opgaardam van Kroonstad, wek kommer onder inwoners.Foto: Gabrie Grobler


Groot kommer heers by inwoners van Kroonstad ná ’n skielike daling in die watervlak van die Serfonteindam.

“Die vlak van die Serfonteindam het in die afgelope ses maande ’n drastiese afname getoon,” sê Gabrie Grobler, inwoner van Kroonstad.

Grobler het op Saterdag 21 Oktober foto’s van die dam geneem wat aandui hoe beduidend laag die watervlak is.

Volgens Lousanne van Heerden van die Vryheidsfront Plus (VF+) in die Moqhaka-munisipaliteit, is die saak onder die aandag van Portia Tshabalala, munisipale bestuurder, gebring.

“Die munisipale bestuurder het bevestig dat die sluise by die Serfonteindam oopgemaak is om alge weg te spoel, maar ek is bekommerd oor die watervlak van die dam – veral as ons ’n droë seisoen gaan beleef. Dit kan katastrofiese gevolge vir inwoners hê,” sê van Heerden.

Van Heerden het besluit om ondersoek in te stel toe die water by die Barend Wesselsdam, by die Robotbrug in Kroonstad, oorloop, hoewel dit nog nie gereën het nie.

Spiro Khoury, ’n lid van die Concerned Citizen-groep en sakeman van Kroonstad, sê die Bloemhoekdam – waar Kroonstad se hoof watertoevoer vandaan kom – is vol en kan nog twee jaar aan inwoners water verskaf. Hy is egter bekommerd oor reserwes wat in die Valsrivier wegvloei.

Kroonstad se watertoevoer word hoofsaaklik uit die Valsrivier, wat sy oorsprong ongeveer 25 km buite Bethlehem het, ontvang.

Die Serfonteindam is ’n opgaar- en voerdam vir die Groblers- en Bloemhoekdam.

Die Moqhaka-munisipaliteit maak hoofsaaklik van die Barend Wesselsdam gebruik waar water uit die sterk oorvloei onttrek word vir suiwering vir huishoudelike gebruik.

“ ’n Oorvloei by die Barend Wesselsdam via die Strydomdam, wat laer af lê, veroorsaak dat water terug in die Valsrivier beland en in die Vaalrivier uitmond,” sê Khoury.

“Dit is hoe die water verlore gaan.”

Volgens hom is die dorp se voortslepende rioolkrisis weens rioolstelsels wat buite werking is steeds ’n probleem omdat dit riool in die Valsrivier laat invloei.

Hy vermoed dit is die rede vir die alge.

“Die riool wat in die rivier invloei is ’n uitdaging, en dit nadat die voormalige adjunk-president David Mabuza in September 2021 opdrag gegee het dat die rioolaanleg in Kroonstad teen 15 Desember 2021 herstel en voltooi moes wees.”

  • Die woordvoerder vir die Moqhaka-munisipaliteit, Dika Kheswa, het bevestig dat die sluise by die Serfonteindam oopgemaak is om die alge weg te spoel.

Hy sê ook dat die Valsrivier vanaf die Bethlehem-omgewing nie sterk vloei nie, omdat dit nog nie gereën het nie; dit dra by tot die stand van sake by die dam.

Die munispaliteit moniteer die sitsuasie en verseker die gemeenskap dat daar geen rede tot kommer is nie. Inwoners word wel versoek om water spaarsamig te gebruik.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article