Ná die wrede moord van 15 Julie op sewe mense op die plaas Lismore buite Kestell, verwelkom Vrystaat Landbou (VL) Thembeni Nxangisa, Vrystaatse LUR vir landbou en landelike ontwikkeling, se verklaring dat sy departement die veiligheidsituasie in die Oos-Vrystaat gaan hanteer.
“Die oorgrote meerderheid van die Oos-Vrystaat se boerderygemeenskappe is aan die Lesotho-grens geleë, wat ressorteer onder die Thabo Mofutsanyana-distrik – waar meer as 45% van die Vrystaat se veediefstalle gepleeg word,” sê Jakkals le Roux, voorsitter van die VL se landelike veiligheidskomitee.
Hy sê ook dat daar met meer praktiese planne en oplossings vir die gebied vorendag gekom moet word.
Francois Wilken, president van die VL, verwelkom en ondersteun dit dat die LUR onderneem het om sy departement met veiligheid en misdade in landelike gebiede te bemoei.
“Misdaad het ’n groot invloed op ’n veilige en volhoubare landbousektor, ongeag of die slagoffers verbonde aan kommersiële, opkomende of bestaansboerdery is,” sê Wilken.
Die VL meen dit beteken dat die LUR’e van veral landbou en polisie, paaie en vervoer met meer erns hande moet vat om die voorbestaan van voedselsekerheid in die provinsie te bevorder.
Die organisasie versoek die LUR om weer in gesprek te tree met georganiseerde landbou, in samewerking met die polisie, om praktiese oplossings en strategieë te vind, veral met betrekking tot eiendomsverwante misdade, waaronder veediefstal in landelike gebiede.





