As ’n mens die jaar 2024 in ’n neutedop kan opsom, is dit: Vir seker ’n jaar waarin Suid-Afrika nie teleurgestel het nie.
Beurtkrag het in die eerste vyf maande, getrou aan sy aard, groot druk op die ekonomie geplaas met al die uitdagings wat daaraan gekoppel is.
Maar op baie soortgelyke wyse as wat die verkiesing in Mei ons almal verbaas het, het Eskom se beurtkrag soos mis voor die son verdwyn. Sakeondernemings en die land se ekonomie slaak ’n sug van verligting.
Die regering van nasionale eenheid (RNE) is ’n eerste vir Suid-Afrika. Wie sou kon voorspel dat die regering só daar sou uitsien.
Die tien partye wat van die RNE deel is, is ’n bewys dat ons as Suid-Afrikaners kan saamstaan en saamwerk.
Dit het vir die meeste Suid-Afrikaners hoop gebring. Buiten die groeipyne bly die gewone Suid-Afrikaner hoopvol dat die RNE ons oplossing is.
Dit moet immers nie gaan oor politieke partye nie, maar wat die beste vir elke landsburger is.
Dan het die rentekoers vanjaar ’n eerste keer sedert die Covid-19-pandemie gedaal – nie een keer nie, maar twee keer. Jan Alleman juig oor die effense verligting.
Uiterste weerpatrone, van sneeu in die lente tot bloedige hitte in Desember, het wel die normale prentjie kom deurmekaarkrap.
Hetsy oorwegend goed of sleg, elke jaar het sy hoogte- en laagtepunte, en ’n mens kan na 2025 uitsien.



