Goeie Vrydag en Paassondag is op ons drumpel, en dit is onvermydelik om te dink aan die geurige spyskaart vir Paasnaweek, skryf kruiekenner van Kroonstad Maryna Serfontein.
In Suid-Afrika is hierdie Christelike feesdae nou verweef met familie en gesinstyd wat gewoonlik rondom ’n heerlike feesmaal en kinders wat paaseiers soek, beplan word.
Met my wyer lees oor kosse en geregte wat tydens die Paastyd geëet en voorberei is, is daar soveel nostalgie en herinneringe in my wakker gemaak; geure en smake wat ons van kindsbeen af onthou.
Benewens die wonderlike onthou het ek diep tot die besef gekom dat ons gebruike en rituele rondom hierdie tydperk baie beïnvloed is deur verskeie gelowe, kulture, tradisies en sosiale gebruike wat deur die eeue nou deel van ons Christelike gebruike geword het.
Die leesstof op die internet is so fassinerend dat ek sou voorstel dat ons lesers gerus bietjie meer daaroor moet gaan lees. Aanvanklik wou ek oor kruie wat tydens Paasfees gebruik word geskryf het, maar die stories ten opsigte van die oorsprong van die gewoontes en kos gebruike is egter onlosmaaklik deel van die geregte en spyse. Kruie wat wel gebruik is, was veral bitter, frank en soms giftige kruie wat jou moes herinner aan Christus se lyding.
Die Paashaas, hardgekookte eiers (wat later paaseiers geword het), kaneel-gegeurde paasbolletjies, bitter vlae poeding, verskeie soorte brode, kerrievis, lamsboud en vele meer is tradisies en geregte wat al eeue heen deel van die Pase is.
Wie geniet nie die heerlike geur van paasbolletjies en kaneel as jy hierdie tyd van die jaar in ’n supermark loop nie? Hierdie gebak is verweef met ou heidense tradisies en Christelike rituele. Eers was die kruis effek op die brood om die fases van die maan uit te beeld maar later het die Christene die kruis op die broodjie as Christus se kruisiging gedenk.
Daar was self ’n tyd in Engeland toe Koningin Elizabeth I ’n edik uitgevaardig het dat die spesery-bolletjies net tydens begrafnisse en Goeie Vrydag verkoop mag word. Mettertyd is die spesery-bolletjies deur straatverkopers geadverteer as “Hot Cross Buns,” synde vars (hot) brood-bolletjie soos ons dit vandag ken.
Al ons geliefde en tradisionele kosse wat voorgesit gaan word tydens Paasfees het heerlike stories daar rondom.
Bedien op Goeie Vrydag lekker geurige kerrievis, paasbolletjies en paaseiers. Hierdie disse is voor die tyd berei, want tradisioneel mag daar nie gewerk word op Goeie Vrydag nie.
Natuurlik verbeter kerrievis se smaak ná ’n dag of twee in die yskas en onthou om ’n ferm vis te gebruik wat nie maklik sag word en uitmekaar val nie. Ons gesels volgende keer weer in diepte oor verskillende kruie.
Geseënde Paasfees.




