Groot omstredenheid heers nadat pres. Donald Trump van Amerika ’n uitvoerende bevel geteken het in reaksie op die Onteieningswet van Suid-Afrika en hy selfs vlugtelingstatus aan Afrikaners gebied het wat meen hulle is slagoffers van onregverdige rasdiskriminasie.
Die aankondiging is met gemengde gevoelens ontvang en het wyd reaksie ontlok. Saterdag was ’n effens chaotiese dag toe Suid-Afrikaners met die nuus van Trump wakker word. Die reaksie, veral uit die landboubedryf, was groot, en dit wil voorkom of die meeste Trump se hulp verwelkom. Tog is daar boere en organisasies wat van mening is dat Trump eers deeglik moet ondersoek instel voordat hy lukraak net uitlatings kan rondslinger.
Daar is wel ’n gevoel dat Trump ’n noodkreet raakgesien het en inderdaad wil optree om aan boere hulp te bied.
Hoewel die uitnodiging van Trump vir sommige landburgers aanloklik lyk, is die algemene gevoel dat hy hulp eerder aan die landbousektor moet verleen en dat boere in Suid-Afrika hulle boerdery wil voortsit.
Ander meen Trump se wilde skote wat hy in die donker skiet is om reaksie uit te lok en dat hy nie 100% ingelig is oor die stand van sake nie. Daarteenoor het die minister van landbou, John Steenhuisen, boere op die tiende Sernick-boeredag vir ontluikende boere verlede week toegepreek waar hy talle suksesverhale gedeel het. Hoewel ontluikende boere met uitdagings worstel, was Steenhuisen oortuig dat daar gemeenskaplike oplossings vir die landboubedryf gevind kan word.



