Van die vrywilligers wat Saterdag die kerkhof van die Kroonstad-konsentrasiekamp help opruim het. Die Valschrivier-erfenisstigting sê instandhouding en opruiming hier bly ’n uitdaging.Foto: Verskaf


’n Groot spanpoging is aangevoor om die Kroonstad-konsentrasiekamp se kerkhof op te ruim en in stand te hou.

Op Saterdag 10 Februarie het betrokkenes by die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK), die Valschrivier-erfenisstigting en AfriForum, asook lede van Die Voortrekkers, dié werk saam aangepak.

Sowat 20 vrywilligers het onder leiding van Jan-Danie Malan, FAK-koördineerder van kultuurnetwerke in die Vrystaat, moue opgerol om die konsentrasiekamp en die ou kerkhof in ere te herstel.

“Dit is vir ons kommerwekkend dat die heining van die kerkhof geplunder is, en dit is vir ons ’n byna onmoontlike taak om die hardnekkige bossies te verwyder wat nie van die gif of sout wat ons gestrooi het, wil vrek nie,” sê Ina Jagga van die Valschrivier-erfenisstigting.

“Ons het regtig hulp nodig in dié verband, en weldoeners wat raad of bystand kan bied, kan ons kontak.”

Die stiging soek dringend na organisasies wat hom op ’n maandelikse grondslag met die instandhouding van die kerkhof kan bystaan.

Boonop word iemand benodig wat heeltyds aan diens kan wees om besoekers rond te wys, asook om met dagtake op die terrein te help.

Instandhouding van die terrein bly ’n reuse-taak, met verval wat voorheen al krisis-afmetings aangeneem het. In Mei 2021 is die terrein, wat in daardie stadium met bosse oorgroei was, byvoorbeeld deur riool oorstroom en is groot skade aan grafstene aangerig. Sowat 80 vrywilligers het destyds ingespring om die terrein weer toeganklik te maak.

Mense wat die kerkhof wil besoek of by die instandhouding van die terrein betrokke wil raak, kan Jagga by 082-393-0210 bel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article