Sportliefhebbers kan nader staan vir ’n naweek vol opwinding en ’n propvol sportprogram vir oud en jonk, waartydens die eerste Kroonstad Tens-sporttoernooi ook sal plaasvind.
Rugby en netbal is op die program, met verskeie spanne wat van Vrydag 30 Augustus tot Sondag 1 September kragte sal meet.
Spanne van Bethlehem, Welkom en Kroonstad het hulle vir dié geleentheid ingeskryf.
Almal word ook genooi om in die 5 km-pretdraf, aangebied in samewerking met die Kroonstad-multisportklub.
Die Kroonstad Tens-toernooi wat Vrydag begin, word deur Ultimate Sports Nutrition (USN) en Invictus Sport and Entertainment geborg.
Dit is ook wanneer die Five-a-side-sokkertoernooi van 09:15 tot 10:55, en 12:00 tot 13:50 aangebied word, so ook die Fast Five-netbalwedstryde vir skole.
Sportgeesdriftiges word ook genooi om deel te neem aan die Fun Shoot-uitdaging vir familie en vriende. Dan is daar ook ’n Farm Skills-kaskarresies en ’n verfbalstryd waarin deelnemers mekaar kan klits.
Saterdag is daar ’n boogskietkompetisie vir deelnemers van alle vaardigheidsvlakke, asook ’n Paint Along-aktiwiteit by die North High School-lapa.
Ná ’n lang dag langs die sportvelde sal feesgangers genooi word om ’n yskoue drankie in die biertuin naby die sportvelde, voor die arena se verhoog, te geniet.
Almal is ook welkom om die Springbok en All Blacks se rugbywedstryd om 17:00 op die groot skerm by die feesterrein te kyk.
Sondag sal die Fun Shoots-speletjies voortgesit word. Die dekormark en teetuin kan besoek word en die eindstryde van die sportkompetisies sal beklink word.
Die derde Ignite and Revive-familiefees is moontlik gemaak deur Netcare Kroonstad, Ljumeg Fire Safety, Suid-Afrikaanse Brouerye (SAB), Coca-Cola, Pick n Pay Family Store, die BKB-landboumaatskappy, Marlec, Black Hawk, Corcomm Sekuriteit, Sentraal24 en T.I.S Boutique.
Die organiseerders wil ook erkenning gee aan Sernick Butchery & Deli en Kroonstad Spur vir geskenke en eetgoed vir gaskunstenaars en die VIP-dek.
“Ons bedank ook Irma Geldenhuys, Penny’s Guesthouse, Arcadia, Gaggle Inn, Berry Lane, The Lavender Guesthouse, Micarlas B&B, Le Grant Guesthouse en Sewende Hemel wat ons gaste en kunstenaars huisves.”





