Nadat inwoners van Christenburg buite Bethlehem ’n week lank sonder elektrisiteit gesit het, het ’n weldoener R31 000 op die Eskom-rekening van R61 000 betaal. Foto:


Die kleinhoewe Christenburg buite Bethlehem, waar sowat 91 behoeftiges woon, benodig nog R12 100 om aan Eskom te betaal.

Dit kom nadat Christenburg se elektrisiteitstoevoer op 13 Mei deur Eskom onderbreek is, weens ’n agterstallige rekening van R61 000.

’n Weldoener en boere in die omgewing kon verlede week R31 000 insamel om ’n gedeelte van die rekening te vereffen sodat die toevoer herstel kon word.

Die kleinhoewe behoort aan Herman Uys, wat in 2019 oorlede is, en is deel van Uys se boedel. Weens die boedel was dit nie moontlik vir inwoners om te weet wat die agterstallige skuld is en hoeveel hulle aan Eskom moes betaal nie.

Isoldé Laesecke, gemeenskaps­aktivis en onafhanklike raadslid van die Dihlabeng-munisipaliteit, sê dit was Uys se droom om ’n plek te skep vir hawelose mense om ’n nuwe begin te maak. Sy sê ook dat die kleinhoewe nog altyd goed bestuur is.

“Die mense by Christenburg werk hard om ’n bestaan te voer en dra maandeliks ’n bepaalde bedrag tot die elektrisiteitsrekening by,” sê Laesecke.

“Die meeste van die inwoners is motorwagte en kinderopassers wat minimale inkomste verdien.”

Danksy Peet Booysen, ’n boer van die distrik, is hout aan inwoners verskaf sodat hulle kos en water kon kook in die tyd dat die elektrisiteitstoevoer onderbreek is. Booysen was ook die eerste wat ’n kontantbydrae gelewer het, en hy het ander boere uitgedaag om dieselfde te doen.

“Christenburg se inwoners is dankbaar vir almal wat gehelp het om die elektrisiteitskrisis te help oplos.

“Indien enigeen ’n bydrae kan lewer sodat die Eskom-rekening vereffen kan word, sal dit opreg waardeer word,” sê Laesecke.

Vir meer inligting oor hoe om ’n bydrae te lewer, kontak Laesecke by 083-956-4221.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article