Die Huis Edelkroon-sentrum vir bejaardes in Kroonstad is hard aan die werk met sy jaarlikse liggiefees.
Vanjaar sal die sentrum aan Engo se Kersliggie-uitdaging deelneem waar R10 000 op die spel is. Sentrums van oor die Vrystaat heen sal aan die uitdaging deelneem.
Die liggies sal op Maandag 1 Desember aangeskakel word en die publiek word uitgenooi om gedurende Desember daarna te kom kyk.
“Ons inwoners is opgewonde oor die Kersliggiefees-uitdaging en ons vra die gemeenskap se hulp en kundigheid om met die versierings te help,” sê Brenda Gouws, bestuurder van Huis Edelkroon.
Daar word staalvorms soos klokke en Kersbome benodig, asook Kersliggies en ornamente vir versiering. Kundiges word gevra om staalvorms soos klokke of Kersbome te help bou.
Sakeondernemings in Kroonstad word genooi om ‘n boom by die tehuis met Kersversierings te versier. Dit is gratis en ondernemings kan hul advertensieborde by die boom plaas.
Gouws sê wanneer die liggies op 1 Desember aangeskakel word sal daar deurentyd vir besoekers roomys, koeldrank en worsrolle te koop aangebied word. Daar sal ook stalletjies wees vir die wat na unieke Kersgeskenke opsoek is. ‘n Donasie, ten bate van die sentrum, sal by die hek vir besoekers gevra word.
Die sentrum benodig ook dringend koekblikke vir sy Kersfees-koekblikprojek, asook iemand wat bereid is om koekies te bak en dit te skenk.
“Die geld wat hiermee ingesamel word, word aangewend vir die behoeftes van die 19 gesubsidieerde inwoners wat by ons in die versorgingseenheid woon,” sê Gouws.
Mense wat betrokke wil raak kan 056 213 1456 skakel vir meer inligting.





