’n Ope dag ná die onlangse opknapping van Changenetsa (CNSA) se New Beginnings-sentrum in Môrelig, Bethlehem, het heelwat aandag getrek. Belangstellendes kon die nuwe geriewe op 27 Mei besoek.
Die sentrum bied ondersteuning en veiligheid aan mense in nood.
“Ons is steeds in verwondering oor die opknapping en is so dankbaar teenoor die Bethlehem-gemeenskap, ondernemings, kerke, skole en niewinsgewende organisasies wat almal ’n bydrae tot die reuse-projek gelewer het,” sê Justice Scott, stigter van die CNSA.
“Die slaapkamers, badkamers, ontvangsruimte en Meals on Wheels-kombuis is pragtig opgeknap.”
Die plaaslike radiostasie Maluti FM word sedert 1 Mei op die perseel gehuisves.
Die CNSA wil waarde tot die Môrelig-woonbuurt toevoeg en ’n aanwins wees vir die Bethlehem-gemeenskap en omgewing, met die hoop dat die sentrum tot sy volle potensiaal gebruik sal word.
Om navrae te rig of by die sentrum betrokke te raak, bel Leon Badenhorst by 071-608-484.





