KROONSTAD – Ná nege jaar se deelname aan die Eskom-ekspo vir jong wetenskaplikes het Helené Fourie, ‘n Gr. 12 leerder van die Hoërskool Trio in Kroonstad, haar laaste jaar op ‘n hoogtepunt afgesluit met ‘n silwermedalje en ‘n voorlopige Eskom-merietebeurs wat haar droom om verder te studeer, ‘n stap nader aan verwesenliking bring.
Helené, wat die Welkom-streek van die Vrystaat by die 46ste internasionale wetenskapskou verteenwoordig het, het van 29 September tot 2 Oktober by die Birchwood-hotel in Johannesburg met haar projek in die plantkunde-afdeling meegeding.
Die beurs erken uitnemende akademiese prestasie, innovering en besondere prestasies. Dit is voorlopig toegeken en is onderhewig aan die bevestiging van haar finale nasionale senior sertifikaat (NSS)-uitslae en die nakoming van Eskom se beurs- en toelatingsvereistes.
“Om as wenner van die prys aangekondig te word, het my heeltemal onkant gevang. Ek kon nie glo dat dit ná nege jaar se deelname aan die ekspo uiteindelik my beurt was om iets van dié aard te wen nie,” vertel Helené.
Sy was so oorweldig deur dankbaarheid dat sy gehuil het. Die beurs het ook vir haar ‘n gevoel van verligting gebring, omdat dit haar ‘n stap nader aan haar droom om verder te studeer, bring.
Haar belangstelling in wetenskap het reeds in Gr. 3 begin, toe haar laerskool wetenskap-onderwyser, Org Prinsloo, haar aangemoedig het om aan die ekspo deel te neem.
Wat destyds begin het, het oor die jare ontwikkel tot ‘n besondere reis van volharding, harde werk en ‘n passie vir wetenskap.

Helené is ook vanjaar as hoofspreker by die geleentheid aangewys.
Sy het haar ervarings en die pad wat sy oor nege jaar afgelê het, met jonger deelnemers gedeel en hulle aangemoedig om aan wetenskapskoue deel te neem en hul belangstelling in wetenskap verder te ontwikkel.
Die internasionale wetenskapskou het leerders van Suid-Afrika en verskeie ander lande – waaronder Rusland, China, Indië, Ierland, Turkye, Brasilië, Lesotho, Mosambiek, Ghana en Namibië – byeengebring.
Vir Helené beteken die prestasies egter veel meer as medaljes en erkenning.
“Dit voel vir my goed om Kroonstad, ‘n betreklik klein dorpie, op so ‘n hoë vlak te verteenwoordig. Dit bewys dat ons moontlikhede nie beperk is nie,” sê sy.
Sy dra ook haar sukses op aan haar familie, wat volgens haar baie opgeoffer het om haar elke geleentheid te gee om haar drome na te jaag.
Haar volgende groot uitdaging lê nou voor: die matriekeindeksamen.
Daarna hoop sy om medies te studeer, met ‘n belangstelling in chirurgie. Indien die plan nie realiseer nie, oorweeg sy ‘n BSc-graad in mikrobiologie en fisiologie.
Vir Trio is Helené se prestasies ‘n bron van trots. Haar verhaal bewys dat volgehoue deelname, nuuskierigheid en deursettingsvermoë deure kan oopmaak – selfs wanneer die droom vanuit ‘n kleiner dorp begin.
Ná nege jaar se deelname aan die ekspo het Helené haar laaste jaar in die program afgesluit met meer as net ‘n silwermedalje: sy het ook nuwe hoop en groter sekerheid oor die pad vorentoe gekry.




You must be logged in to post a comment.