Personeel van die Boitumelo-hospitaal in Kroonstad staak sedert Donderdag 2 Februarie oor die swak omstandighede waarin hulle moet werk. Foto: Verskaf


“Dit is tans chaos by die Boitumelo-hospitaal in Kroonstad, pasiënte ontvang nie die nodige medikasie of mediese sorg nie en lê honger of kry nie kos wat nie op standaard is nie.”

Dit was ‘n anonieme boodskap wat VrystaatKroon op Saterdag 4 Februarie ontvang het nadat die hospitaal se personeel sedert Donderdag 2 Februarie staak.

Die staking volg op die ongelukkighede van personeel oor die haglike omstandighede waarin hulle werk.

Vakbondverteenwoordigers het ‘n lys klagtes van hul Boitumelo-lede aan die department ter tafel gelê. Dit sluit onder meer in lugversorgers wat in sekere eenhede asook in teaters buitewerking is, stoompype en kombuisdakke met lekplekke, geysers en koelkamers wat buite werking is, gebarste waterpype, ’n stukkende kragopwekker, beskikbare en noodsaaklike poste wat nie gevul word nie (daar is tans 250 poste beskikbaar) om slegs ‘n paar van hul griewe te noem.

Op Maandag 6 Februarie het Mondli Mvambi, woordvoerder van department van gesondheid in die Vrystaat, gesê dat die werkers by Boitumelo met ‘n onwettige staking besig is en die senior bestuur van die department met vakbondverteenwoordigers sal vergader om ‘n oplossing te vind.

Mariette Pittaway, DA woordvoerder vir gesondheid en onderwys in die Vrystaatse Provinsiale Wetgewer, sê tydens haar besoek die naweek aan die Boitumelo-hospitaal het sy geen verpleegpersoneel aan diens gevind nie en pasiënte het sedert Saterdag ook geen medikasie ontvang nie en dokters van omliggende dorpe was genoodsaak om in te spring om die saak te beredder.

“Die DA gaan ‘n klag by die menseregtekommissie indien om dringend die situasie by die Boitumelo-hospitaal te ondersoek,” sê Pittaway.

VrytaatKroon ontvang op ‘n gereelde basis klagtes oor die swak dienslewering by dié hospitaal.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article