Musikant en oud-Bethlehemiet Alouise Peens kuier op Vrydag 24 Mei in haar tuisdorp met haar vertoning Opi(NIE).Foto: Verskaf


Oud-Bethlehemiet en bekende musikant Alouise Peens sal binnekort in Bethlehem kuier met haar vertoning Opi(NIE).

In dié vertoning sal Peens die gehoor op ’n reis neem met haar musiek en mense aanmoedig om die mure wat die wêreld om jou bou, af te breek en om die unieke mens wat jy is, weer te vind.

“Jy is meer as die grimering wat jy dra, meer as die woord vrou of ma, meer as die prentjie wat mense skep, meer as jou Instagram likes of jou bankbalans; jy is wie jy is. Jy is braaf, jy is sterk, jy is jy. Jy is meer as iemand se opinie,” sê Peens.

Sy sien uit om weer saam met al die bekendes van Bethlehem te kuier – die vertoning is by die Hoërskool Witteberg se Lavina Schabort-kleinteater.

Die musikant was ook die baskitaarspeler vir Bok van Blerk en maak gereeld haar buiging as solokunstenaar op die verhoog.

Sy gee ook musieklesse en is vir die afgelope 11 jaar in Pretoria woonagtig.

’n Vertoning wat nie sal teleurstel nie, word beloof. Daar is slegs 56 kaartjies beskikbaar vir dié vertoning wat op Vrydag 24 Mei plaasvind. Kaartjies is te koop op quicket.co.za teen R180, wat ’n glasie sjerrie insluit.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article