AfriForum in Bethlehem moes weens veiligheidsredes ‘n enorme gat voor die Laerskool Truida Kestell in Bethlehem self herstel.
Dit volg nadat die Dihlabeng-munisipaliteit ‘n gat vir herstelwerk in Februarie voor die skool in Wesselstraat gegrawe het en dit nie weer opgevul het nie.
Die gat het die afgelope paar maande groot frustrasie onder ouers, personeel en padverbruikers veroorsaak. Ondanks verskeie klagtes, briewe en desperate versoeke aan die munisipaliteit om die gat te vul, is die gemeenskap se noodkrete geïgnoreer.
Die AfriForum-tak in Bethlehem moes 1 ton teer gebruik om die gat te vul. Buiten die herstel van die gat, het die organisasie in Junie 5,8 ton teer gebruik om slaggate oor die dorp heen te herstel, asook 3km se seëlwerk is aan paaie te doen.
Christa Ikking, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoogland, sê die verligting was egter kortstondig, want net enkele meters van die herstelde gat het die Dihlabeng-munisipaliteit weer ’n massiewe gat gegrawe om ’n waterlekplek te herstel. Die nuwe gat voor die skool is 1m diep en 2,5m wyd, wat ’n hele baan in die pad voor die laerskool versper.
“Hierdie verwaarlosing van Bethlehem se paaie skilder nie net ’n onooglike prentjie nie, maar skep ook ’n lewensgevaarlike situasie vir voetgangers, veral kinders en voertuie. Die finansiële las word nou op die gemeenskap geplaas, wat self geld moet insamel om die munisipaliteit se werk te verrig. Dit is onaanvaarbaar dat inwoners gedwing word om vir basiese infrastruktuur te betaal wat die munisipaliteit behoort te onderhou,” sê Ikking.
Die organisasie sê indien die munisipaliteit nie binne die volgende sewe dae die gat herstel nie, sal die gemeenskap weer moet inspring om die herstelwerk te doen en die koste verbonde sal van die munisipaliteit verhaal word.




