Kleuters van The Growing Tree Learning Academy in Kroonstad, waar Ilya van den Berg skoolgaan, het op 27 Oktober almal Springbok-ondersteunersklere aangetrek en geld ingesamel. Hulle het R5 194 só ingesamel. Foto’s: Verskaf

Credit: SYSTEM

Die gemeenskap van Kroonstad se hart is groot, en skenkings ten bate van die vyfjarige Ilya van den Berg, wat onlangs met kanker gediagnoseer is, stroom uit alle oorde in.

Benewens ’n bedrag van R5 194 wat ingesamel is deur die skooltjie wat sy bywoon, The Growing Tree Learning Academy, het Trio Primêr deur geldinsameling ’n stewige bedrag van R20 000 bygebring om die mediese koste te help dek wat verband hou met die behandeling wat Ilya ná haar diagnose met leukemie in Bloemfontein ontvang.

Boonop is verskeie ander geldinsamelingsprojekte met dieselfde doel op die sosiale media begin.

Die Hoërskool Trio, ook in Kroonstad, het vir Ilya ’n bidbeertjie gegee, wat vir haar ’n troosbeertjie kan wees.

Ilya ontvang behandeling by die Universitas-hospitaal in Bloemfontein nadat dit op 19 Oktober bevestig is dat sy leukemie het.

Aanvanklik het sy die kindersiekte pampoentjies onderlede gehad toe die dokters besluit het om ’n volbloedtelling te neem. Kort daarna het dokters haar met leukemie gediagnoseer.

Leukemie is ’n kanker wat meestal in die bloedvormende weefsels, beenmurg en die limfatiese stelsel ontstaan, en dié vorm van kanker is baie meer algemeen onder kinders.

“Dit is vir ons hartseer dat een van die The Growing Tree-boompies met leukemie gediagnoseer is, en ons as skooltjie wil haar en haar gesin in dié moeilike tyd ondersteun en bystaan,” het Seugnet Oelofse, eienaar van The Growing Tree Learning Academy gesê kort nadat hulle die nuus van Ilya se diagnose gekry het.

Oelofse sê dit was verstommend hoe die gemeenskap van Kroonstad onmiddellik by die aanhoor van dié nuus saamgestaan het om met geldinsamelings te begin om Ilya en haar ouers, Zuna-Marie en Duanne, te ondersteun.

Benewens die uitgawe vir mediese behandeling waardeur hulle in die gesig gestaar word, speel byvoorbeeld reiskoste na Bloemfontein ook ’n rol.

Die gesin, waarvan Ilya se twee sussies Kara en Areli ook deel is, het hul dankbaarheid teenoor die gemeenskap uitgespreek vir die hulp en ondersteuning.

Enigeen wat ’n bydrae wil lewer om hulle by te staan kan Oelofse by 082-699-1070 bel vir meer inligting.

Ilya het op Maandag 6 November weer chemobehandeling ondergaan en sou Woensdag ’n intensiewe behandeling ontvang. Daar sou ook weer beenmurg en spinale vog getrek word, asook bloed vir ’n plaatjie-telling.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article