Daar heers groot opgewondenheid by die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in Kroonstad oor die jongste toevoeging tot hul honde-eenheid – Lady, ‘n tweejarige Belgiese Malinois, wat onlangs haar opleiding as ‘n volwaardige biologiese vloeistofopsporingshond suksesvol voltooi het. Lady het verlede week amptelik diens begin en word nou as ’n gespesialiseerde snuffelhond in ernstige misdaadondersoeke ingespan.
Lady volg in die spore van die legendariese Benji – ’n wit-en-bruin Borderkollie met opvallende blou oë – wat vir tien jaar lank onmisbare bystand aan ondersoekspanne regoor die Vrystaat gebied het. Benji het ’n huishoudelike naam in die provinsie geword weens sy merkwaardige vermoë om selfs die kleinste spore van biologiese vloeistowwe soos bloed en semen op misdaadtonele op te spoor. Sy werk het daartoe gelei dat belangrike DNS-bewyse in talle moord-, verkragting- en ander ernstige sake verkry is.
Benji en sy hanteerder, adjudant-offisier Leon Strydom, was ‘n formidabele span en het selfs suksesvolle werk oor provinsiale grense heen verrig. Volgens polisiewoordvoerder, kaptein Loraine Earl, was Benji ‘n geskenk van Strydom se dogters. Die agt weke oue hondjie het vinnig ontwikkel tot een van die polisie se mees bekwame viervoetige speurders.
In Oktober 2023 is Benji met klierkanker gediagnoseer en hy is later aan die siekte oorlede. Sy dood het ‘n groot leemte gelaat – nie net in AO Strydom se lewe nie, maar ook in dié van kollegas regoor die provinsie. “Benji was nie net my kollega nie, maar ook my vriend en my kind,” het Strydom met emosie gesê.

Vastbeslote om Benji se nalatenskap van uitnemendheid voort te sit, het Strydom in Oktober 2024 begin soek na ‘n waardige opvolger. Met die ondersteuning van die Kroonstad-gemeenskap het hy Lady opgespoor. Sy is aan die SAPD geskenk en het daarna intensiewe opleiding ondergaan om as ‘n biologiese vloeistofopsporingshond gekwalifiseer te word.
In Junie vanjaar het Lady haar opleiding suksesvol voltooi en sy is nou ten volle operasioneel. Strydom en Lady is vasberade om misdaad te beveg en geregtigheid te dien – een reukspoor op ’n slag. Hulle streef daarna om Benji se nalatenskap eer aan te doen en ‘n verskil in die gemeenskap te maak.



You must be logged in to post a comment.