Zian Schwim se musikale gene kom van sy musikant-pa, Rudo Schwim, saam met wie hy graag op die verhoog klim.Foto: Verskaf


’n Talentvolle jong sanger en kitaarspeler van Bethlehem maak groot opslae, veral nadat hy die Truidjies Got Talent-kompetisie van sy skool, die Laerskool Truida Kestell, gewen het.

Die 11–jarige Zian Schwim, ’n gr. 5-leerling en seun van Tanja en Rudo Schwim, het in dié skool se talentkompetisie, wat in Mei tydens die skool se plaasfees aangebied is, skoonskip gemaak. Hy het die beoordelaars en gehoor met sy kitaar en liedjie wat hy self geskryf het, aan sy lippe laat hang.

Zian het einde verlede jaar sy hand aan die pen gewaag toe hy sy eerste liedjie geskryf het en met behulp van pa, Rudo, wat help skaaf het is daar ook ’n opname van sy liedjie gemaak.

Dié jong man kom uit ’n musikale familie, en Rudo is ’n plaaslike musikant wat veral in die Oos-Vrystaat bekend is. Hy tree gereeld tydens gesellighede en spesiale geleenthede op.

“Van kleins af is Zian aan musiek blootgestel en het soms saam met Rudo op die verhoog geklim. Hy het dit ook geniet om met sy speelgoedkitaar vir ons, familie en vriende te vermaak.

“Zian het verlede jaar kitaarlesse by Ben Rheeder geneem, maar dit is hoofsaaklik sy pa wat hom op die kitaar touwys maak,” sê Tanja, sy ma.

Die jongman wat reeds die kitaar bemeester het wil graag ook die klavier onder die knie kry.

Hy neem nou sanglesse by Bernette Erasmus.

Hy is deel van die Truida Kestell-skool se jaarlikse sangfees wat aangebied word en sal as die rockster Clay Calloway van die animasiefliek Sing 2 as een van die hoofkarakters in die sangfees op die verhoog verskyn.

Zian sing al van gr. 1 af in die koor en in Augustus sal hy aan die jaarlikse kunswedstryd deelneem. Sy sussie, Nuali (14), sing ook in die koor

Hy sê musiek maak hom gelukkig, veral omdat hy die geleentheid het om sy eie musiek te skryf en te skep.

Wanneer Zian nie sing of kitaar speel nie, geniet hy sport en neem graag aan rugby, hokkie en krieket deel.

Dit is ook vir hom lekker om vis te vang en hy ry graag motorfiets.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article