Man (80) van Kroonstad se bortogaansoek duur voort, kleinseun vrygelaat

‘n Tagtigjarige man wat op 3 September in die Kroonstad-landdroshof verskyn het.
‘n Tagtigjarige man en sy 16-jarige kleinseun het op 3 September in die Kroonstad-landdroshof verskyn op aanklagte van onder meer moord en poging tot moord. Foto: Madli Grobbelaar

KROONSTAD. Die borgtogaansoek van die 80-jarige man wat op 3 September in die Kroonstad-landdroshof verskyn het, duur vandag voort. Die man se kleinseun het ook gister voor die hof verskyn. Met die borgtogaansoeke wat gister net voor 16:00 plaasgevind het, is die 16-jarige seun in die sorg van sy ouers vrygelaat.

Die man en sy 16-jarige kleinseun se hofverskynings kom ná ‘n skokontdekking op ‘n plaas buite Kroonstad. 

Die man is op Dinsdag 2 September in hegtenis geneem, en sy kleinseun Woensdag, nadat die polisie op 20 Augustus ‘n jong man se lyk op ‘n plaas buite Kroonstad opgegrawe het. ‘n Wenk uit die gemeenskap het tot die ontdekking gelei.

Die name van die beskuldiges mag nie bekend gemaak word nie om die identiteit van die 16-jarige te beskerm.

Die verdagtes word van moord, poging tot moord, sameswering om moord te pleeg, regsverydeling en die afvuur van ‘n vuurwapen in ‘n munisipale gebied aangekla.

Roelof van Wyk, met bystand van Wynand Botha, verteenwoordig die man. Die minderjarige seun word deur Audrey Coetzee en Danie Swanepoel van Kroonstad verteenwoordig.

Landdros Tseko Komane het die hofverrigtinge gelei.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article