Die 21-jarige Anemieke van Niekerk, patologie-student van Pretoria wat in Rosendal groot geword, het 'n unieke bordspeletjie ontwerp wat groot opslae maak. Die speletjie word uniek aan elke klant se spesiale behoeftes gemaak.
Die 21-jarige Anemieke van Niekerk, patologie-student van Pretoria wat in Rosendal groot geword, het ‘n unieke bordspeletjie ontwerp wat groot opslae maak. Die speletjie word uniek aan elke klant se spesiale behoeftes gemaak.

‘n Patologie-student het een vakansie in Rosendal waar sy groot geword het, ‘n unieke handgemaakte bordspeletjie ontwerp wat nou groot opslae maak en bykans in ‘n voltydse bedryf ontaard het.

Die speletjies, wat bekend staan as Bambino-bordspeletjies, is nie net ‘n ideale geskenk nie maar word uniek aan jou spesifieke dorp ontwerp en vervaardig.

Die speletjies – wat hoofsaaklik soos Monopoly werk – is die breinkind van die 21-jarige Anemieke van Niekerk, ‘n boorling van Bloemfontein.

Van Niekerk wat patologie in Pretoria studeer, het een vakansie in Rosendal met die blink gedagte vorendag gekom.

“Ons het by my pa, Gerrie van Niekerk, wat op Rosendal woon gekuier en nadat ons al die bordspeletjies tot vervelens gespeel het, het ek die gedagte gekry om ‘n speletjie soos Monopoly maar oor Rosendal te ontwerp,” sê Van Niekerk.

Die res is geskiedenis en net daar is Bambino-bordspeletjies gebore.

Die bordspeletjies, speelstukke en verpakking word uit hout gemaak en die geld en speelkaartjies uit herwinbare karton.

Die eerste bordspeletjie wat Van Niekerk met die hulp en idees van haar hele familie ontwerp het, is ‘n bordspeletjie oor Rosendal die dorp en omgewing, asook wat die dorp aan inwoners bied.

Die Rosendal-bordspeletjie wat nie net inwoners van Rosendal aan die gons het nie, maar ook groot aftrek kry by mense wat gaande is oor die omgewing. FOTO’S: Verskaf

“Dit bring vir my baie genot om speletjies vir gesinne te ontwerp volgens hulle dorp en om te weet dat hulle dan soos ons ure om die tafel sal deurbring en net lekker saam te kuier.

“Boonop leer almal uit die speletjie meer oor hul dorpe.”

Van Niekerk sê sy het groot geword met ‘n familie wat graag bordspeletjies speel en dit verskaf haar vreugde om te weet dat elke bordspeletjie wat sy maak vir ‘n kliënt, ook aan hulle gesinne vreugde verskaf.

“Dit is kosbaar om te weet mense in die gejaagde lewe koop die speletjies om met hul geliefdes tyd deur te bring. Dit is nostalgies en mooi.

“Daarom sit ek ‘n stukkie van my hart in elke speletjie wat ek met sorgvuldigheid maak en verpak.”

Die bordspeletjies word volgens elke klant se spesifieke behoeftes ontwerp.

Om meer oor Van Niekerk se vernuftigheid uit te vind, volg haar op ‘n verskeidenheid sosiale mediaplatforms by bambinoboardgames.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article