Die aankondiging dat die DA-leier John Steenhuisen as minister van landbou aangestel is, is deur Vrystaat Landbou (VL) verwelkom.

Na aanleiding daarvan dat Steenhuisen gesê het hy wil “die harde stem van landbou” wees, het VL in ’n verklaring bevestig die organisasie sien daarna uit om die behoeftes van boere onder die nuwe minister se aandag te bring.

Voedselsekerheid is een dringende behoefte wat die organisasie meen nie as ’n voorkeursaak hanteer word nie. Francois Wilken, VL-president, meen om voedselsekerheid te verseker moet boere en organisasies met infrastruktuur en ondersteuning bemagtig word.

“Ons doen ’n beroep op die minister om die herstel van infrastruktuur en toegang tot water te bevorder,” sê Wilken.

“Die landbousektor het ook finansiering nodig vir alle boere wat verliese in rampe gely het. Tans is finansiering en ondersteuning hoofsaaklik slegs vir ontluikende boere beskikbaar.”

Opleiding is ook vir die organisasie ’n bekommernis en daarom word Steenhuisen versoek om die saak te dryf dat praktiese landbou-onderrig van hoogstaande gehalte weer by die Glen-landboukollege buite Bloemfontein aangebied word.

“In vennootskap met die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT), Vrystaat, asook landboukursusse aangebied by kolleges vir tegniese en beroepsgerigte onderwys en opleiding, kan die kollege Vrystaatse boere in staat stel om ’n suksesvolle sektor te bou.”

Die volhoubaarheid en winsgewendheid van landbou is nog iets waarop klem geplaas moet word, meen VL.

“Strategieë om dié aspekte van landbou te bevorder moet in samewerking met spesialiste geskep word.

Wilken verduidelik ’n bevorderlike omgewing waarin die ekonomie kan groei, word verlang.

“Dit vereis wetgewing wat die regulering van die sektor sal verbeter, soos die wysigingswetsontwerp op veediefstal en die nasionale skutwet.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article