Dit is skuins ná 20:30 op ’n Maandagaand terwyl die dag effe rustiger raak. Ek bepeins watter take ek nog moet afhandel voor slaaptyd, toe ek skielik ’n stem oor ’n luidspreker hoor praat. Ek neem aan dat dit heel moontlik ’n funksie by die nabygeleë skool is.

Tog ongewoon vir so laat op ’n Maandagaand, dink ek by myself.

Dit klink of die bulderende stem oor die luidspreker nader beweeg, maar ek is ook nie seker nie en wonder of dit die wind is wat die klank rond waai.

Ek besef dat die stem wel nader beweeg en een of ander aankondiging maak.

Dit neem my onmiddellik terug na my kinderdae, toe belangrike aankondigings deur middel van ’n voertuig wat stadig deur woonbuurte beweeg het, met behulp van luidsprekers op die voertuig se dak, bekendgemaak is.

Ek onthou as kind was dit ook soms vreesaanjaend. Vaagweg kan ek aan die stem oor die luidspreker hoor dat dit oor ’n vergadering gaan. Die boodskap word in Engels en Sotho uitgesaai.

In die Engelse boodskap kan ek aflei dat dit ’n politieke party is wat inwoners nooi om by ’n skool in die buurt te vergader. Strategiese benadering, natuurlik, om stemme vir die komende verkiesing te werf.

Die tydsberekening is perfek. Om 20:30 is die meeste mense rustig en tuis en hulle sal, soos ek, met gespitste ore luister waaroor die lawaai gaan.

Op die woonbuurt se WhatsApp-groepe vra benoude inwoners waaroor die bohaai gaan totdat hulle gerusgestel is dat dit net ’n aankondiging vir ’n vergadering is.

Ek kan nie help om te wonder of die politieke partye ná die verkiesing steeds so gretig sal wees om kiesers wat vir hulle gestem het, te dien soos hulle nou probeer doen nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article