Die vierde Clarens-kunstefees was, soos vorige jare, ‘n reuse-sukses met besoekers van oral wat kom fees hou het.
Wanneer die goudgeel populierbome en roesbruin moeraseike in en om Clarens die herfs aankondig, is dit feestyd.
Soos die afgelope drie jaar, was die dorp van 1 tot 4 Mei ‘n miernes van bedrywigheid toe besoekers van heinde en ver saam met die inwoners en kunstenaars in die feestelikheid kom deel het. Vir alle voorkeure was daar iets om van te kies en te keur: van kuns, vermaak en musiek, tot boekbekendstellings, besielende gesprekke en werksessies.
Elke genre op die feesprogram het ‘n groot gros aanhangers en hoogtepunte gehad.
Onder die tema “Sjampanje en soetgoed” het die fees begin met Susan
Coetzer se pittige mededeling van die storie agter haar jongste trefferroman, Haas en Harriët. Hoewel heelwat van haar boeke ‘n geestelike aanslag het, het sy nie geskroom om haar karakters én hul stories met heerlike kwinkslae in te kleur nie.
Die geleentheid is gehou in die daktuin van die Il Castello-hotel, waar die feesgangers ook op sjampanje en versnaperings getrakteer is.
Nog ‘n hoogtepunt was Comrades-koning Bruce Fordyce se Tales from the Road-praatjie. Dié kampioenatleet se boodskap oor die belangrikheid van deursettingsvermoë en wilskrag, asook waardevolle wenke oor selfdissipline, het sterk aanklank by feesgangers gevind.
Op ‘n vermaaklike trant het die akteur en sanger Ian Roberts se Unplugged hartsnare aangeraak. Van kleintyd tot grystyd was sy lewe ‘n avontuurlike nomadiese reis, en skroom hy nie om absoluut eerlik en op die man af uit te wei nie, soos in sy nuwe memoir, Nomad Heart, vervat.
Feesgangers was ook gaande oor Vincent waarin die driemalige Naledi-wenner Daniel Anderson diep gedelf het in die komplekse lewe van die enigmatiese kunstenaar Vincent van Gogh en sy soeke na opregte menslike verbintenis.
Eweneens het die Affiekoor en
A-Minere van die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria, onder leiding van AJ Maree, feesgangers betower.
Daarbenewens het die dorpsmeent, soos gewoonlik, geskitter van kunswerke in elke formaat denkbaar.
Die Clarens-kunstefees is stewig geanker en ‘n hoogtepunt op die land se feeskalender en sien uit om feesgangers weer volgende jaar te verwelkom.
– Wilma de Bruin






