Ter viering van Vrouemaand het VrystaatKroon met verskeie vroue oor hul onderskeie rolle in die samelewing gesels. In die afgelope 30 jaar het Petro Oosthuizen ‘n onbaatsugtige diens aan die Kroonstad-gemeenskap gelewer en hoop gebring vir dié wat met gehoorprobleme skukkel.
Die 63-jarige Oosthuizen, wat die afgelope 41 jaar as spraakterapeut en oudioloog werk, het drie dekades gelede die Kroonstad Gehoorsentrum begin. Sy het besluit om hierdie jaar die tuig amptelik neer te lê.
“Ons gaan volgende jaar in die Bosveld aftree, en daarom sal my laaste werksdag op Woensdag 15 Oktober wees. Zelda Wolmarans sal dan die praktyk by my oorneem,” sê sy.
Oosthuizen, die jongste van agt kinders, het in 1979 aan die Hoërskool Menlopark matrikuleer. Ná skool het sy aan die Universiteit van Pretoria (UP) ‘n graad in kommunikasie-patologie verwerf. In 1983 het sy as spraakterapeut en oudioloog gekwalifiseer.
Sy het haar loopbaan aan die Elizabeth Conradie-skool in Kimberley begin, waarna sy by die Prospectus Novus-skool in Pretoria gewerk het. Toe sy en haar man, Wessel Oosthuizen, wat by John Deere SA gewerk het en met wie sy 40 jaar getroud is, na Kroonstad verhuis, het sy by die kinderleidingkliniek hier begin. Daarna het sy haar praktyk in Kroonstad geopen.
Oosthuizen sê haar werk is haar ingebore passie. Dit het haar groot vreugde verskaf as sy mense weer kon bemagtig met gehoor wat hulle verloor het.
“Om mense te kon help om weer te kan hoor sodat hulle aan ‘n gesprek kan deelneem of kan kommunikeer nadat hulle spraak en taal weens ‘n beroerte verloor het, is regtig ‘n wonderlike en vervullende ervaring.”
Oosthuizen sê omdat sy altyd in die mediese rigting wou werk, maar ook genoeg tyd aan haar gesin en tydverdrywe wou gee, was dit vir haar die ideale beroepskeuse.
Sy reken om as vrou die balans te hou is deesdae baie makliker as toe haar kinders nog almal op skool was.

“My gesin was nog altyd my eerste prioriteit. Die tyd saam met hulle het ewigheidswaarde.”
Die egpaar het drie kinders: Wessel (37), Christa (35) en Annien (31), wat al drie hul skoolloopbane in Kroonstad begin en voltooi het. Om die balans in die lewe te handhaaf en om positief te bly, sê sy elke oggend vir die Hemelse Vader dankie vir al die seëninge.
“Deur te fokus op dankbaarheid, kan negatiewe emosies verdryf word. In ons huis was Pollyanna se storie gebruikswoordeskat: Daar sal altyd iets wees om voor dankbaar te wees, ongeag die omstandighede.”
Haar geloof hou haar staande, en sy raadpleeg altyd die Allerhoogste in elke besluit wat sy moet neem.
Sy beskou haarself as iemand met deursettingsvermoë en selfdissipline, wat baie hoë standaarde aan haarself stel.
Wanneer sy wil ontspan, sal sy een van haar vele tydverdrywe beoefen. Buiten dat hulle graag kampeer in naburige Afrika-lande, geniet sy houtwerk, ystersmeewerk, mosaïek, pewterwerk, verf en skilder, tuinmaak, toerbeplannings en boeklees. Sy volg ook ‘n fotografiekursus. Oosthuizen spog met een Comrades- en vyf Twee Oseane-marathonmedaljes, maar moes hardloop vaarwel toeroep ná ‘n rug- en heupoperasie.
Sy sê dit is vir haar ‘n baie emosionele tyd, maar sy is ook opgewonde om die nuwe hoofstuk in hul lewe te begin.
“Dit was ‘n voorreg om die pad saam met my pasiënte te kon loop. Ek sal julle mis en die mooi herinneringe koester. In besonder, dankie aan Anneline van den Berg wat die laaste 20 jaar aan my sy gewerk het, om die werksaamhede by die pratkryk vlot te laat verloop. Jou lojale ondersteuning en harde werk het my deur dik en dun gedra. Kroonstad en sy mense was goed vir ons. Dankie vir julle. Ek sal bly bid vir julle.”






You must be logged in to post a comment.