Reitz, Vrystaat

Danie Slabbert, boer van Reitz, gaan op die kongres insette lewer.
Kongres

Die erkende Brasiliaanse dekgewasspesialis dr. Ademir Calegari is ook een van die sprekers op die kongres.

Landbouweekblad sal saam met vennote in Maart, vir die eerste keer sedert die Covid-19-pandemie uitgebreek het, die gewilde Herlewingslandboukonferensie aanbied. Die tema behels hoe om hoë insetkoste te troef. 

Internasionale sprekers en plaaslike landboukundiges sal op die geleentheid kwessies soos die skerp styging in insetkoste, en of die natuur dienste kan lewer wat gewoonlik in ? sak gekoop word, bespreek. “Dit is regtig ’n voorreg om weer ons reeks herlewingslandboukonferensies, wat nodig is in dié tye, vanjaar in Reitz, Ottosdal en Stellenbosch aan te bied,” sê Chris Burgess, hoofredakteur van Landbouweekblad.

“Met die astronomiese styging in insetkoste is dit natuurlik ook ’n goeie tyd om weer idees uit te ruil oor hoe die natuur ingespan kan word om boere se koöperasie-rekening te besnoei. Ons moet eenvoudig maniere vind om goedkoper en meer volhoubaar te boer.”Op die konferensie sal boere die geleentheid kry om kers op te steek by internasionale sprekers, asook by boere wat herlewingslandboupraktyke suksesvol toepas. Hulle sal ook meer kan uitvind oor die jongste navorsing in dié opwindende veld.

Die erkende Brasiliaanse dekgewasspesialis dr. Ademir Calegari en Pablo Etcheberry, ’n Argentynse beesboer wat ultrahoëdrukbeweiding suksesvol beoefen en gereedskap ontwerp het om die bestuur daarvan te vergemaklik, sal boere toespreek. Plaaslike kundiges soos die graskenner Frits van Oudtshoorn, die entomoloog prof. Johnnie van den Berg en die ekonoom Mary Maluleke sal ook hul nuutgevonde kennis deel. DF Fyfer van Vryburg in Noordwes, Adrian Bignell van Mazabuka, Zambië en Danie Slabbert van Reitz is boere wat ook insette op die kongres sal lewer. 

Konferensiegangers kan uitsien na boereproewe, praktiese demonstrasies van ultrahoëdigtheidsbeweiding en om saam met kenners in die veld te stap.Die Reitz-konferensie word op 7 en 8 Maart by die Reitz-skouterrein gehou. Bywoning kos R1 200 per persoon en dié bedrag dek alle etes.

Belangstellendes wat vroegtydig hul kaartjies bespreek, kom in aanmerking vir afslag. Diegene wat nie die konferensie kan bywoon nie, kan teen R500 aanlyn inskakel. Kaartjies is op Quicket by https://qkt.io/Reitz beskikbaar.

Die konferensie word in trotse vennootskap met die Riemland-studiegroep, Sentraal24 en ASSET Research aangebied. Alle Covid-19-regulasies sal toegepas word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article